Local newsNewsSANParks

‘n Halfmiljoen rand se steun laat wildtuin se snuffelhonde stropers se tjank aftrap

Met 'n skenking van meer as 'n halfmiljoen rand is die NKW se K9-eenheid slaggereed om nog meer stropers vas te trek.

SKUKUZA – Twee dae nadat hy ‘n week gelede aan die Nasionale Kruger Wildtuin (NKW) oorhandig is, het een van die vier spoorhonde reeds sy staal gewys deur sy eerste stroper plat te trek.

Die koue spoorhond was deel van ‘n skenking van vier bloedhond/Dobermann-kruisings aan die NKW K9-eenheid.

Die skenkings is moontlik gemaak deur befondsing van onder meer die Wuppertal-dieretuin in Duitsland, Sterprojek van San Francisco, Facebook-skarebefondsingprojek van die Virtuele Ereveldwagters geloods deur veldgids, mnr. Jaco Buys en die Parkrun-inisiatief van Bruce Fordyce.

Elkeen van die honde, opgelei deur mnr. Gaven Holden-Smith, is tesame met hul mobiele vervoerhok met ingeboude lugreëling en harnas, R35 000 werd.

Tydens die oorhandiging is ‘n demonstrasie deur Johan de Beer, bestuurder van die NKW se K9-eenheid, en sy aanvalshond, Delta, gegee.

Hierdie Belgiese Malinois het gewys dat hy in staat is om deur ‘n bewegende bakkie se venster te klim en ‘n voornemende misdadiger só die skrik op die lyf te jaag, dat hy vinnig sal uitklim net om deur ‘n veldwagter aangekeer te word. De Beer is baie trots op hierdie uitsoekhond en verwag “groot dinge van hom”.

Die oorhandigingsgeleentheid en skenkings was deel van die SANParke Ereveldwagters se Projek Waghond. Verskeie van die ereveldwagters-takke het bydraes tot die opgradering van die honde-eenheid gemaak.

IMG_2199 (Small)

Die Laeveld-area onder leiding van mnr. Grant Coleman het  toegesien dat  die eenheid se hokke en ander geriewe  opgeknap word en het ook nuwe  geboue opgerig. Die Oos- Randtak het met die skenking van ‘n  hoëdrukskoonmaker  gesorg dat die hokke in die toekoms higiënies gehou  kan  word. ‘n Belofte is deur die Hoëveld-tak gemaak dat  materiaal  beskikbaar gestel sal word om vir die Satara- gebied hondehokke in te rig.

Die tak het ook ‘n noodsaaklike 180kg hondekos geskenk.  Die Kwa Zulu  Natal-area het armskutte en bytkussings  bygedra sodat honde in  gesimuleerde aanvalsitiuasies  opgelei kan word.

De Beer, het tydens die bekendstelling en oorhandiging van die nuwe geriewe, honde sowel as donasies soos trauma-noodhulpkissies vir die honde en kolligte vir voertuie, die ereveldwagters en ander skenkers bedank vir hul volgehoue steun aan die eenheid. Die skenkings beloop altesaam bykans R640 000.

Bekende oudmarathondrawwer en stigter van die Parkrun-beweging in Suid-Afrika, Fordyce, het namens dié fiksheidsbeweging R20 000 aan die K9-eenheid oorhandig.IMG_2200 (Small)

“Ons het besluit om hierdie brawe manne en honde te help na ‘n bywoning van ‘n demonstrasie van waartoe hulle in staat is. Ons was beïndruk met hulle deursettingsvermoë,” het Fordyce gesê. Mnr. Glenn Phillips, uitvoerende bestuurder van die NKW, het Fordyce en sy klubs uitgenooi om moontlik ‘n soortgelyke drawwers-inisiatief in die wildtuin te begin. Stappers en drawwers dwarsoor Suid-Afrika van alle ouderdomme neem tans Saterdae om 08:000 in meer as 48 stede regoor die land aan Parkruns deel.

Mnr. Volkmar Seifert van die Wuppertal-dieretuin het tydens die oorhandiging van ‘n spoorhond, Wupper, aan De Beer gesê dat die burgemeester van Wuppertal so opgewonde is oor die skenking van Wupper, dat hulle hande gaan vat om dalk nog ‘n hond te skenk.

“Maar hy sal ‘Tal’ genoem moet word aangesien Wuppertal nou volledig verteenwoordig is in die wildtuin!”

 

IMG_2202 (Small)

 

Back to top button