Eertydse veldwagter onthou buffellopie

Johan van Graan het in sy dae as veldwagter met menige dier te make gehad. Maar die dag toe 'n verwoede buffel met 'n strik om haar poot hom gestorm het, sal hy nie maklik vergeet nie.

STRAND – Toe Johan van Graan, voormalige Nasionale Krugerwildtuin- (NKW) veldwagter, hoor Don English het onlangs ‘n buffelstormlopie oorleef, was hy die een mens wat presies geweet het wat dié geliefde pa en legende in bewaring deurgemaak het.

English, wat ernstige beserings in die aanval opgedoen het, het vir ongeveer ‘n week in Mediclinic Nelspruit aangesterk maar is reeds ontslaan. Van Graan weet uit dure ervaring waardeur hy gaan.

Twintig jaar gelede was hy self aan die ontvangkant van ‘n seer en omgekrapte buffel se woede. Die middag van 25 Oktober 1998 is die oomblik wat hy die naaste aan dood in sy 32 jaar lange loopbaan as veldwagter gekom het.

Die Kalahari-boorling het sy lewe in die veld in die Kalahari Gemsbokpark begin. Hy was ook verbonde aan die Golden Gate Park en sedert die laat negentigs aan die NKW by Malelane en Skukuza.

Op hierdie dag tydens die meedoënlose afranseling deur ‘n buffel, het hy ‘n span veldwagters op patrollie uitgestuur in die Krokodilbrug-area van die NKW. Hulle het laat weet dat ‘n buffel ‘n strik om sy poot gekry het.

Hy het hom na die toneel gehaas en reeds vanuit die bakkie die gepynigde dier gehoor. Daar was ‘n kalf saam met haar. Hy het twee vrywilligers gekry om in die rigting van die gekreun saam met hom te stap.

“Toe sien ek uit die hoek van my oog, sowat 30 treë verder, iets vaals. Dit was die buffel se agterlyf. Voor ek verder kon fokus, was die kalf langs my,” vertel Johan. Toe draai die koei ook om en kyk na hom. “Hoe kan ek ooit die rooi  oë en die geblaas deur die neusgate vergeet?” wonder hy steeds vandag.

Hy het vinnig uitgewerk dat indien hy die kalf skiet, daar twee patrone vir die  volwasse buffel sou oorbly. Hy moes egter uit die pad van die aanstormende  kalf spring en het die eerste skoot op die koei afgetrek. Dit het haar skrams teen die kop getref. Met die buffel skaars twee treë van hom af, het hy weer sy geweer oorgehaal, gelaai en gevuur.

Dit was nog ‘n skramse kopskoot. Hy het nog ‘n patroon in die loop ingestamp. In die stadium het hy egter ‘n oomblik geweifel. “Ek was bang die geweer haak in die buffel se horings, ‘n skoot gaan af en beseer die ander.”

Toe sak die buffel met mening op hom toe. Hy is aanhoudend met die kop gestamp terwyl sy op sy kuite en bene getrap het.

Bang dat sy op pad was om sy kakebeen te breek en op sy keel te trap, het hy in Shangaan op sy medeveldwagters geskree om te skiet.

Toe laat waai een van die veldwagters en gee die dier die doodskoot. Hulle het vorentoe gehaas. “Toe die skoot klap, was dit die mooiste klank ooit,” sê hy, steeds verlig oor die senutergende oomblik.

Die buffel het swaar op hom ineengestort. Hy wou onder haar uitskuif, maar hy was vasgepen en kon nie beweeg nie.

Die veldwagters het hom onder die buffel uitgetrek en eenkant laat lê. In die geharwar het hy daaraan gedink dat hy nie sy kollegas wou ontstig nie. Hy het sy vrou, Kotie, op hul eie radiokanaal geroep.

“En toe tjank ek van skok!” Die dokter kon onmiddellik uitkom en na hom omsien. Hy is na die hospitaal in Komatipoort gehaas waar daar na sy veelvuldige beserings omgesien is. Hy het verskeie blou kolle en kneusings gehad. Een van sy nekwerwels het ook geskuif.

Na ‘n hersteltyd van twee weke was hy weer op die been. Hierdie ervaring het hom egter vir ewig verander. “Daarna was ek veel meer oplettend in die veld. Dit was deel van my leerskool,” sê Johan nadenkend.

Dit is herinneringe aan hierdie tye wat hom deesdae die skilderkwas laat optel. Vir eers het hy sy veldwagtersgeweer opgehang. Hy lê nou treffend diere op die skilderdoek vas soos die skildery hierby van ‘n buffel.

Dis nie meer verre veldhorisonne wat voor hom wink nie, maar die eindelose blou horisonne van Valsbaai waar hy nou in die Strand woon.

“Gee vir Don my innige simpatie,” sê hy weer. ”Dis ‘n lang pad tot volkome herstel.”

Exit mobile version