FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Nuwe sangsensasie laat feesgangers sprakeloos

Refentse was in 'n Afrikaanse laerskool, Unitaspark en daar het hy die moedertaal leer praat. Sy ouers kan glad nie Afrikaans praat nie en het Afrikaanse liedjies vir hom gespeel toe hy klein was.

As Refentse Morake op die verhoog stap sal jy nie glo dat hierdie jong swart ou van Vereeniging sy mond gaan oopmaak en Afrikaans begin sing nie. Die voormalige onderhoofseun van Hoërskool Vereeniging Gimnasium, sê tydens ‘n onderhoud met Laevelder by Innibos dat sy lewe nie juis na matriek verander het nie, behalwe dat hy voor dit nie ‘n sangloopbaan gehad nie.

Refentse is geen onbekende naam op die ore nie. Almal ken teen dié tyd al sy storie. Hy was besig om sy kitaar in die straat te tokkel toe Cecilia Kruger Marchionna verbygestap het. Sy het ‘n video van hom geneem en dit op sosiale media gelaai en na net ‘n dag het dit 160 000 views gehad.

Tydens verlede jaar se KKNK in Oudtshoorn het Karen Zoid met die verbygaan ‘n R10-noot in sy hoedjie gegooi en die volgende aand het hy saam met haar die verhoog gedeel.

“Die feeskomitee het my aan haar voorgestel en sy het my dadelik erken. Sy het my genooi om saam met haar te sing en dit is waar die musiekwêreld my leer ken het. Zoid is een van my helde.”

Sy eerste CD, My hart bly in ‘n taal, verkoop soos soetkoek en hy beoog om volgende jaar hierdie tyd ‘n tweede album uit te bring met liedjies wat hy self geskryf het.

Lees ook: Rock skud die aarde op Innibos-hoofverhoog

Die 19-jarige het reeds op laerskool begin koorsing en hy was ook deel van die Suid-Transvaalse Jeugkoor, maar het nooit solo gesing nie. Hy sou oorspronklik aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus vir regte ingeskryf het, maar het besluit om eerder te sing. “Ek studeer nou regte deur Unisa. Ek hou van feite en ek voel dat dit belangrik is dat almal moet weet wat hulle regte is. Ek is ‘n passievolle leier.”

Refentse was in ‘n Afrikaanse laerskool, Unitaspark en daar het hy die moedertaal leer praat. Sy ouers kan glad nie Afrikaans praat nie en het Afrikaanse liedjies vir hom gespeel toe hy klein was.

“Ek was daardie skaam singing star outjie. Ek het televisie gekyk om te sien hoe die ouens dit doen, maar nooit saam gesing nie. Ek is versot op ander musikante se musiek. Jou eie stem klink naak.”

Kyk ook: Video: Refentse Morake by Innibos 2015

‘n Skilderkunstenaar het Laevelder na Refentse se optrede verlede week by die KMI-verhoog nader getrek en gesê dat hulle nog nie een kunstenaar gehoor het wat só aan iemand se lippe gehang het nie. “Ons staan heeldag hier en sien al die kunstenaars wat hier optree. Hy is ongelooflik talentvol. Ons wou nie gehad het hy moes ophou sing nie – hy staan kop en skouers bo die res uit,” vertel Alan Levine.

Hy was 16 jaar oud toe hy vir die eerste keer ‘n kitaar vasgehou het en hy noem haar sy Lucy Love. Vir nou is dit sy enigste liefde. “Sy beteken die wêreld vir my. Sy hang in my kamer en elke nou en dan kyk ek na haar en sê: ‘Hello baby’. Sy is nie veel werd nie, maar vir my is sy my alles. Ek is bang my liefdeslewe bestaan uit kwessies en daar is nie nou tyd vir liefde in my lewe nie. Dit is non-existent, maar ek moet sê ek dink nie ek het al ooit die moed gehad om ‘n meisie uit te vra nie.”

Refentse sing ook graag Engelse musiek en sê dat hy nie sy musiek tot ‘n taal wil beperk nie. Hy sing graag ook in Zoeloe en Xhosa en hou van baie van die Suid-Afrikaanse liedjieskrywer, Zahara, Nazi en Mama Afrika, Miriam Makeba.

Sy pad vorentoe moet spontaan gebeur omdat hy nie daarvan hou om vooruit te beplan nie. As hy te veel beplan, raak hy verveeld sê hy.

Refentse Morake gesels met Muskiet

Back to top button