FeaturesInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Innibos se jongste kunstenaar maak sy buiging

Xander Goosen (15) se aanvoeling vir musiek is nie iets wat natuurlik deur sy familie se are vloei nie.

Die talentvolle leerder van Hoërskool Nelspruit is die jongste kunstenaar wat vanjaar op die verhoog by Innisbos stap. Hy het die kans van ‘n leeftyd raakgesing toe hy verlede jaar sy skool se Idols-kompetisie gewen het.

Met sy solo-afdelingliedjie, “Happy” het hy nie net die gehoor met sy stem stomgeslaan en is met R2 000 beloon nie, maar is ook uitgenooi om op die KMI Airport-verhoog te sing.

Lees ook: Nellies hou hul eie Idols

“Ek het glad nie gedink dat ek Idols sal wen nie. Ek het dit bloot gedoen omdat ek dit geniet om te sing. Om ‘n loopbaan hiervan te maak het my gedagtes eers onlangs begin prikkel,” vertel die blondekop.
Sy ma, Antoinette sê dat hy as klein seuntjie altyd geloop en sing het en met sy helikopters gespeel het.

Xander het in Skukuza grootgeword waar hy tot einde gr. 3 op laerskool was.

Sy ouers het daardie tyd natuurlewe insetsel-regisseurs-video’s vir die SAUK en 50/50 gedoen. ‘n Beroep in die lyn van ‘n wildbewaarder of ‘n veldgids het Xander nooit geïntereseer nie. Hy was Skukuza se jongste leerder wat erekleure vir kultuur gekry het. “Een van die redes waarom ons besluit het om dorp toe te trek, was om dié kant van hom meer te ontwikkel. Sy kitaaronderwyser het hom in gr. 4 aangeraai om ook sanglesse te begin neem, en kyk waar hy is vandag,” vertel Antoinette.

Xander het eers hierdie jaar ook met klavier- en dramaklasse begin en hoop om teen die einde van die jaar sy gr. 5-klavier-eksamen te doen. Tydens verlede jaar se Suid-Afrikaanse Talentkampioenskappe, het hy in al sy items ‘n A++ losgesing.

Lees ook: Pragtige stemme by Eisteddfod

Die immergewilde choreograaf, Ferdinand Gernant, wat hierdie jaar by NHS se revue betrokke was, het daar vir Xander gevra om deel van die musiekblyspel, Swing Swing Swing te wees wat April in Johannesburg opgevoer is.

Verkenners van die Internasionale Model- en Talentvereniging het verlede jaar besoek in die Laeveld afgelewer waar Xander uitgenooi is om hierdie jaar in New York te gaan deelneem. Maar weens ander verpligtinge, moes hy dit van die hand wys.

Die bruinoog-sanger het gistermiddag op die KMI Airport-verhoog gesing, waar hy die gehoor met ‘n verskeidenheid genres van pop tot Afrikaans bekoor het.

Sien ook: Nelspruit Hoërskool Revue 2016

Hy sien homself na skool in Somerset-Wes by die Oakfields Kollege waar hy musiekteater wil studeer.

“Ek sien myself nie net as ‘n sanger nie. Ek sal graag in al die komponente wil spesialiseer – van dans en sing tot toneelspel.”

Back to top button