Innibos 2016 skop met ‘n optog af

Innibos het al wonderlike afskopkonserte aangebied, maar niks kon die strate van Mbombela voorberei vir die vrolike parade wat gisteroggend afgespeel het nie.

Vir die eerste keer ooit, is die fees se afskopdag gevier met ‘n optog wat die provinsie se diversiteit en kleur ten volle ten toon gestel het. Van tradisionele dansers, dromslaners en narre tot Harley-ryers, almal was daar!

Begelei deur Working on Fire-brandweerwaens, het die optog reeds vroeg-vroeg begin aandag trek, soos groepe een na die ander by die afskoppunt naby Pick n Pay in Mbombela in gelid geval het.

Kleur en musiek was aan die orde van die dag, met Afrikadromme en blaasorkeste wat lustig dog vriendelik, mekaar gas gegee het. Terwyl deelnemers gewag het vir die verrrigtinge om te begin, het die opwinding duidelik opgebou.

Dansers het hulle passies uitgevoer, Penryn College se eerste rugbyspan het gepronk, die Nelspruitse Gimnastiek Akademie het gewawiel en narre op stelte en reusepoppe het uitgetoring bo die gedruis. Oud en jonk was daar om te jubel, juig en lawaai te maak.

Twee vlotte, ‘n Londense bus deur Laeveld Media (wat die Laevelder se 130ste bestaansjaar vier) asook ‘n reuse-son, wat die provinsie se embleem uitbeeld, het aandag getrek. Orals het kleintjies gedans, handjies geklap en hulle verkyk aan die veelkleurige vertoning.

Die roete het die deelnemers deur die middedorp en verby die burgesentrum geneem om by Lowveld High, naby aan Bergvlam en die feesterrein, te eindig. Teen die tyd wat die optog Sonpark-sentrum bereik het, is hulle deur skare mense langs die pad toegejuig en die rumoer en opwinding het ‘n hoogtepunt bereik.

Hierdie jaar se Innibos tema “Droom groot” som dalk die parade op – saam kan ons groot dinge bereik. En as jy nie kan groot droom nie, droom in reënboogkleure!

Loer hier vir nog foto’s: Die eerste Innibos-optog

Exit mobile version