Nuwe DBV-komitee takel skuldprobleme en fondsinsameling

Die Nelspruit DBV kan nie bekostig om toe te maak nie waarsku 'n dieresiektekenner omdat Mpumalanga se hondsdolheidinfeksie-koers van die hoogste in die land is.

MBOMBELA – ‘n Nuwe era het aangebreek aan vir die Nelspruit DBV met die aanstelling van ‘n komitee van sewe lede vanaf 15 Junie met die voorsitter, me. Marcel Hoffman, tans ook voorsitter van die Barberton-tak.

Sy is in ‘n tussentydse hoedanigheid aangestel om die Nelspruit DBV terug op sy voete te kry.

Die voormalige komitee het onlangs bedank onder ‘n wolk van beweringe dat sake nie altyd pluis was met die bestuur van die aantal diere in die hokke nie en dat daar nie genoeg suksesvolle fondsinsamelings was nie.

“Daar was ernstige wanbestuur deur die vorige komitee wat amper tot die sluiting van die Nelspruit DBV gelei het,” het mnr. Jaco Pieterse, skakelbeampte van
die hoofkantoor van die organisasie, tydens ‘n spesiale vergadering van die Mbombela-tak gesê.

Een van die hoofredes vir die finansiële probleme is die gebrek aan suksesvolle fonds-insamelingsprojekte. “As jy verantwoordelik is vir die welstand van meer as 500 diere per maand is fondsinsamelings kardinaal,” het Pieterse verduidelik.

Die instelling was in die benarde posisie ten spyte van die feit dat iemand betaal is om fondse in te samel. Die Pledge a Paw-veldtog het wel R265 000 ingebring en die My Schools-projek bykans R9 000. Die uitgawes van Nelspruit DBV beloop ongeveer R1,6 miljoen per jaar.

Die komitee neem die bestuur van opgehoopte skuld van bykans R400 000 oor. Tans is daar nie geld om personeel te betaal nie. Die salarisrekening is ongeveer R58 000 per maand.

“Die DBV skuld die veeartse van Mbombela ook ‘n fortuin,” het Pieterse beklemtoon.

Die munisipaliteit moet die organisasie R400 000 as ‘n toegekende skenking en vereffening van dienste gelewer as skut gee. Die bedrag moet in die helfte met Barberton DBV gedeel word.

Alvorens dit kan gebeur moet daar egter ‘n geouditeerde staat van die Mbombela-tak se 2015-boeke ingedien word. Maar daar is ‘n struikelblok. Die ouditeure se fooie van R30 000 van twee jaar gelede is nog uitstaande en hulle wil nie die boeke nagaan voordat die bedrag nie vereffen is nie.

Daar is ook ‘n opgehoopte uitstaande skuld van ongeveer R50 000 aan SARS wat vereffen moet word.

Daar is uitgewys dat die welsynwinkel van die DBV – na die betaling van huurgeld en salaris van die bestuurder – skaars R8 000 per maand tot die begroting bydra.

Pieterse het verduidelik dat die hoofkantoor nie finansiële ondersteuning bo en behalwe die salaris van ‘n inspekteur vir ‘n jaar uit ‘n spesiale fonds kan betaal nie, aangesien die hoofkantoor vir 70% van die land se dieresorgbehoeftes verantwoordelik is waar daar nie DBV-verenigings is nie.

Elke tak soos die een in Mbombela is verantwoordelik vir sy eie geldsake en fondsinsameling. Daar is wel ondersteuning soos opleiding, leierskap en onderlinge samewerking om die bestuur vlot te laat verloop.

Die hoofkantoor het wel ingestaan vir die salarisse van die personeel in Mei om ‘n krisis te voorkom.

Die komitee sal versterk word deur twee kundiges. Gert Coertzer dieregesondheidsbeampte van die staatsveearts se kantoor en dr. Christo Nortje, bekende veearts, het aangebied om in te spring en te help om, veral in terme van praktiese reëlings, by die hokke en die diere se bestuur te help.

“Mpumalanga is een van die hoogs geïnfekteerde hondsdolheidareas,” het Coertzer gesê. Hy het daarop gewys dat ‘n DBV wat goed bestuur word ‘n voorvereiste is vir ‘n gemeenskap vry van hondsdolheid. “Ons kan nie bekostig dat die tak in Mbombela toemaak of swak bestuur word nie. Dit is ‘n gesondheidsrisiko vir almal,” het hy uitgewys.

Mede-dieresorgorganisasies soos Pro-Life het tydens die vergadering ook hulp aangebied om kundigheid te deel en hande te vat wanneer nodig. Pieterse het die samewerking verwelkom mits daar nie botsing van belange is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version