Hard newsLocal newsNewsSANParks

NKW-ystervrou dien stropers ‘n barshou toe

Aan die noordste punt van die Nasionale Kruger Wildtuin (NKW) waar olifantstroping 'n toenemende probleem is, staan 'n vrou aan die stuur van sake wat vasberade is om stropers vas te vat maar wat ook stilstaan om jou al die juwele in haar area soos vleilande en antieke kultuurskatte te wys.

SKUKUZA – Die antieke verlore stad van Thulamela lê in die verre noorde van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) waar ‘n granietkoppie met kremetartbome soos krone om sy kop uittroon. Daarnaas open ‘n rivierwoud van koorsbome ‘n groen hek na waar die Limpoprivier se droë lope spore van die grootvoete dra. Dalk is hulle op pad na die panne van die vleilande van Makuleke, ‘n wêreldoppasgebied waar skaars roofvoëls kringe in die lug draai.

Dis ‘n lappie hemel op aarde hierdie waar diegene wat Pafuri moet bewaar teen stropers en skelms, dit toegewyd doen.

Sandra Visagie
Sandra Visagie

Een van hierdie oppassers is ‘n emosioneel sterk vrou wat as veldwagter haar stempel in bewaring afgedruk het. Sy is Sandra Visagie,  streeksveldwagter van Pafuri.

Sy skrik nie in hierdie noordwestelike hoek van die wildtuin vir stropers nie. Krisisse soos toe die Limpoporivier in vloed was en die kamp ontruim  moes word en die uitbreek van miltsiekte toe 500 diere gevrek het, het sy as leier met grasie en moed hanteer. Sy is so tuis soos die mopanies hier  waar lewensgevaarlike guwelas, oftewel eenloperbuffels, alleen in die veld staan.Vir haar is Pafuri-streek “’n spesiale plek met uitsonderlike  uitdagings”.

Dié dinamiese leier is al 10 jaar besig om die NKW, waar drie internasionale grense kruis, soos ‘n kleinood te bewaar. Sy kan jou vertel van die dae toe  hier geen stroping was nie tot vandag waar elke dag ‘n voorval rondom stroping en strikke insluit. Grenskruisings by Pafuri-grenspos sluit verder vele  misdade in.

Verlede jaar is olifanttande in ‘n mandjie onder komberse in ‘n motor gevind en renosterhoring word op verskeie maniere versteek in motors van  bestuurders wat die grens wil oorsteek. Gesteelde motors word ook gereeld hier voorgekeer.

“Ons kan nie bekostig om ‘n enkele renoster te verloor nie,” sê Visagie. Sy vat hande met kapt. Samson Tshabalala van die polisie se grensstasie en ‘n komitee in Mosambiek om die streek veilig te hou. “Wanneer verhoudings goed is, wen almal en dit word weerspieël in die suksesse wat ons behaal.”

Daar is ook kere wat sy en haar span skote hoor maar nie betyds kan reageer nie. “Onlangs het ons gehoor hoe kloof ‘n byl ‘n horing af van ‘n renosterkoei se kop, maar ons was nie betyds om haar en haar kalf te red nie,” vertel sy aangedaan.

Dis nie net sulke geteikende diere wat haar teen stropers op ‘n kalm manier laat uitvaar nie. Sy is steeds ontsteld oor twee leeus wat ‘n ruk gelede vergiftig is en het saam met ‘n span vasberade veldwagters die booswigte aangekeer.

Thulamela se granietkoppies
Thulamela se granietkoppies

Sy raak bewoë as sy gesels oor olifante wat landmyne in Mosambiek aftrap en beseer na Suid-Afrika toe kom. Die toenemende stroping van olifante in die verre noorde maak haar egter meer en meer vasberade om haar span veldwagters te lei om die voortslepende stryd te wen.

In Pafuri is die olifantbevolking ‘n makliker teiken as in die suide waar daar reeds verskeie maatreëls in werking gestel is om stropers vas te trek en voorkomend op te tree. ‘n Helikopter moet byvoorbeeld van Skukuza in die suide kom help indien nodig.

“Ons het nog nie dieselfde tegnologie en ondersteuning in plek nie, maar ek sal met my lewe baklei om alles hier te bewaar,” sê Visagie. “Dis nie ‘n werk nie maar ‘n roeping.”
Crooks’ Corner, die punt waar Mosambiek, Suid-Afrika en Zimbabwe bymekaarkom, doen steeds sy naam gestand al is dit in ‘n ander eeu so benoem toe dit ‘n stuk niemandsland was waar skurke hoogty gevier het. Met die Limpoporivier so laag is dit maklik vir die stropers om daar na die wildtuin te kruis.

Die internasionaal erkende vleiland wat hier by die Luvuvhu- en Limpoporivier bymekaar kom, lê haar ook na aan die hart.

Die 31 panne in ‘n vleiland van 43 kilometers, huisves rare spesies soos Pels se visuil. Die vleiland word in ooreenkoms met Makuleke-stam en konsessiehouers bestuur. Visagie ken elke pan by die naam.

Net so passievol is sy oor Thulumela, die antieke verlore stad teen ‘n granietkoppie waarvan die argeologiese ruïnes herstel is en veldwagter Daniel Shivambu in detail vertel van artefakte uit die 14de eeu wat hier gevind is.

“Kyk die geesdrif in sy oë,” sê Visagie tydens ‘n besoek daar en haar eie groen oë flits self trots na waar van die Kruger se ikoonbome, kremetarte, oor die vlaktes van Pafuri troon.

Daniel Shivambu, erfenis-veldwagter by Punda Maria
Daniel Shivambu, erfenis-veldwagter by Punda Maria
Maluleke-panne, 'n wêrelderkende Ramsar-veilandgebied
Makuleke-panne, ‘n wêrelderkende Ramsar-vleilandgebied
Een van die ikoonbome in die noorde van die NKW, 'n kremetart.
Een van die ikoonbome in die noorde van die NKW, ‘n kremetart.

Back to top button