Hard newsLocal newsNewsSANParks

Geen vislewe by wildtuinhek waar rou riool instroom

Die Nasionale Krugerwildtuin se riviere is in gevaar aan die Phalaborwa-kant waar gebreekte rioolpompe, stakings en oorvol riooldamme rou riool in die wildtuinwater laat beland en vislewe tot 'n stilstand laat kom.

PHALABORWA – Riool beland nou reeds ‘n hele ruk teen 100 liters per sekonde in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) se riviere deur die Tshutsispruit wat in die Olifantsrivier mond.

Inwoners en besoekers aan die NKW voel dit is tyd dat die plaaslike owerheid sy huis in orde kry en is keelvol vir die rou riool by die wildtuin se hek. Die probleem steek reeds die afgelope 18 jaar gereeld kop uit en ‘n klag is nou by die Groen Skerpioene aanhangig gemaak om ‘n ernstige ekologiese ramp af te weer.

Die stank en rioolvullis wat in skuimbolle borrel kan die wildtuin se riviere en dierelewe ernstige skade berokken en die Phalaborwa-hub se beeld skade aandoen, meen inwoners.

Die huidige probleem is ‘n slegte gevolg van gewelddadige stakings wat vanaf 3 Junie by die plaaslike munispaliteit plaasgevind het. Daartydens is kragkabels beskadig deurdat spykers daarin geslaan is. Vir 22 uur was geen krag beskikbaar vir die pompe by die suiweringswerke nie. Riool het oor die nooddamme se walle gestoot.

Die staking is deur die Suid-Afrikaanse Munispiale Werkersunie (Samwu) aangekondig. Die arbeidsonrus het plaasgevind omdat die owerheid geweier het om werknemers op te gradeer. Met die swart rioolvuil wat die pasafgelope Sondag ook uit mangate uitgeborrel het, het ‘n onwelriekende reuk oor die hele dorp en ook die Phalaborwa-hek van die NKW gehang. ‘n Besoeker het dit beskryf as “een vet, groot vrot stank”.

Honderde liters rioolafval het nou reeds in die Tshutispruit ingeloop wat deur die dorp kronkel en 100 meter van die NKW-hek verbyvloei na waar dit na ‘n paar kilometer in die Olifantsrivier in die wildtuin invloei.

Dit is nie die eerste keer wat dit gebeur dat groot volumes rioolvuil in die riviere van die wildtuin vanaf die spruit invloei nie. Die asbesrioollyn is reeds sedert 40 jaar gelede toe die dorp in die lewe geroep is, in gebruik. Dit verval gereeld as gevolg van min instandhouding in onbruik. Dit lei tot die opeenhoping van rou riool in die nooddamme. Dit is veral wanneer die pompe staan soos die afgelope paar dae, dat die nooddamme nie die riool kan hanteer nie en die spruit vuil word.

Mnr. Khathu Mphary, tegniese direkteur van die Phalaborwa Munisipaliteit, het bevestig dat die pompe weer sedert 13 Junie vanaf 16:00 begin loop het.

Hy skryf die probleem toe aan gedeeltes van die asbeslyn wat beskadig is.

“Ons is tans besig om die pyplyn op te gradeer. As gevolg van die verouderde infrastruktuur het die pyp gebars terwyl ons die opgehoopte riool begin pomp het,” het hy gesê.

Volgens hom is die kontrakteur besig om die nuwe rioollyn na die suiweringswerke vinnig af te handel en sal dit teen die einde van die jaar voltooi wees. Tot dan kan probleme te wagte wees.

Kenners is dit eens dat die afval die wildtuin se vislewe bedreig. Besoekers het reeds opgemerk dat daar geen vislewe te sien is in die omgewing waar die spruit in die NKW inloop nie. Dr. Eddie Riddel, bestuurder van die wildtuin se waterbronne, het bevestig dat die bestuur gereeld samesprekings met die munisipaliteit oor die toestand van sake voer en die situasie monitor.

“Dit is werklik ‘n probleem in nat seisoene, maar omdat dit tans so droog is, sal die spruit hopelik nie die Olifantsrivier bereik nie. Dit is nogtans ‘n besoedelde spruit in die wildtuin wat diere se gesondheid en ander waterbronne kan beïnvloed,” het Riddel gesê.

“Ons wil beslis nie rioolwater in die riviere hê nie,” het hy bevestig.

Alhoewel die spruit se vloei in die wildtuin nie die deurgaanse probleem van blougroen alge het nie, veroorsaak die verrykte water eutrofikasie wat nadelig vir die voël- en vislewe is. Opnames sal eersdaags gedoen moet word om die omvang van die skade te bereken.

Back to top button