Annatjie Myburgh se kinders deel die pyn van hul verlies

Haar kinders het vanmiddag die media by hulle ouerhuis op Curlews toegespreek.

MBOMBELA – Dit was hartroerend hoe me. Annatjie Myburgh se kinders hul pyn weens die verlies van hul ma, maar ook die empatie van die Laeveldse gemeenskap en selfs die res van die land, verwoord het.

Hulle het vanmiddag die media by hulle ouerhuis op Curlews toegespreek

Haar seun, mnr. Wendell Myburgh jnr. en dogter, me. Marlise Rossouw het hul dankbaarheid uitgespreek omdat die onsekerheid sedert Woensdag oor wat van haar geword het, darem nou op ‘n einde is.

Hulle is dankbaar dat hulle nou tot ‘n mate berusting kan probeer kry en het ook hulle dank uitgespreek vir die ongelooflike ondersteuning wat hulle vanuit alle oorde ontvang het.

Hulle het met deernis na haar as “mamma Annatjie” verwys en gesê dat hulle geloof en ander se gebede hulle nou in hierdie tyd staande hou.

Die gemeenskapsbetrokkenheid sou haar trots gemaak het. Nee, maak haar trots.

“Dit was haar passie, sy was ook so diensbaar. Sy het gestaan vir die oasis van Jesusliefde.

“Dit gee ons hoop vir ons land, hoe almal hande gevat het. Die hele gemeenskap, met hul verskillende gelowe, tale en gebreke het saamgestaan. Dit is vir ons baie spesiaal.”

Haar kinders was vir Annatjie báie spesiaal en sy het die meeste oor hulle gepraat, het mense wat Myburgh goed geken het, gesê.

Wendell en Rossouw het mekaar se hande vasgehou terwyl hulle die media toegespreek het. Wendell en sy vrou, Charmaine, sê hulle is dankbaar sy ma is lank genoeg gespaar om haar eerste kleinseun te ontmoet, die sewe-weke oue Aiden.

Die hele gesin het vanoggend die kerkdiens in die NG Kerk in Witiriver bygewoon waar mnr. Wendell Myburgh snr om op sy en sy vrou se normale pos gestaan het om te help as dienswerker, iets wat vir haar so ‘n passie was.

“My pa is stukkend, hy is seergemaak. maar hy is nie kwaad nie,” het sy seun gesê.

“Almal haat misdaad. Maar om te vergewe is ons eerste opdrag. Watookal in hulle koppe aangegaan het, ons sal eerder vergewe.”

Tog voeg Wendell by, dat daar families is van mense wie se oorskot nooit gevind word nie en hulle dra hulle in hul harte en gebede.

Mense het reeds begin om blomme neer te sit by haar werksplek in Wirtivier, Döman Weitsz-prokureurs.

“Daar sal nooit genoeg tyd wees om dankie te sê nie. Daar is te veel name om te noem.”

Intussen sal ‘n 26-jarige verdagte môre in die landdroshof op Witrivier verskyn op klagtes van ontvoering en kaping.

Opvolg: Annatjie Myburgh se lyk gekry

Geloofsvraag bly vassteek in Annatjie Myburgh se seun se hart 

Honderde verenig in gebed vir Annatjie Myburgh

Exit mobile version