Local newsNews

Geloofsvraag bly vassteek in Annatjie Myburgh se seun se hart

"Ons moet aan ons geloof kan vashou. Daarsonder is ons niks nie."

Vir Annatjie Myburgh se seun, Wendell, is die afgelope paar dae sedert sy ma se verdwyning iets wat hy geen mens sal toewens nie. “As die Here nou voor my kom staan, is daar net een vraag wat ek hom sou vra: Hoekom my ma?”
Hy het verwys na lede van gebedsgroepe wat op Facebook vir Annatjie intree en ‘n gebedsuur wat vanoggend vir haar gehou is. Hy het almal wat deelgeneem het van harte bedank.
“Elke oproep, elke minuut wat iemand in gebed of gedagte aan my ma afstaan help want dit versterk ons,” het hy aan Laevelder in ‘n gebroke stem gesê.

Sien ook: Honderde verenig in gebed vir Annatjie Myburgh

Video verskaf deur Suburb.News

Hy het verwys na sy eie en sy vrou se stryd om ‘n gesin te begin en hoe dit hul geloof versterk het, iets waaruit hy nou krag put want hy voel hy moet kan sterk staan vir sy pa, suster en eie gesin.
“Ek het geleer dat die Here voorsien. Alles wat jy deurgemaak het in jou lewe voed hierdie gedagte en maak dit sterker. Hierdie pasafgelope paar dae is dit waaraan ek vashou; dat Hy weer sal voorsien wat ons nodig het,” het hy aangedaan verduidelik.
Maar dit is ook vele ander gedagtes wat in hierdie emosionele tyd in Wendell se kop draai, soos die wete dat niks hulle as gesin hierop kon voorberei nie.
“As ek sien wat in die wêreld aangaan, veral in ons eie land, dan dink ek aan hoe ons ander in tye van lyding getroos het met woorde soos, ‘Ons is naby en dink aan julle,’ minwetende ons sou ook nodig kry om dit te hoor en daaraan vas te hou.”
Hy het dit onomwonde gestel dat hy ‘n Christen is. “Ek glo in ‘n liefdevolle Drie-enige God en dit is hoekom mense se gebede vir my die brandstof is wat my laat funksioneer. Ons moet aan ons geloof kan vashou. Daarsonder is ons niks nie.”
Wendell het met ‘n hartseer stem bely dat hy weet “geen struikelblok in sy pad gesit sal word waarby hy nie verby kan kom met God se hulp nie”.
Maar tog bly die vraag in sy gemoed toe hy groet… “Sy was so saggeaarde mens. Ek sal die Here tog wil vra as Hy voor my staan: Hoekom my ma?”

 

Sien ook: Annatjie Myburgh – Ondersoek in “sensitiewe” stadium

Back to top button