Local newsNewsSANParks

Snuffelhonde kragtige wapens in stropingstryd

'n Klomp Amerikaners van Iowa op besoek aan die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) saam met die Rotariërklub van Sandton was so beindruk met die manier wat die NKW se eenhede die stropingsaanslag teen renosters die hoof bied dat hulle saamgespan het om R90 000 bymekaar te maak om twee snuffelhonde, hul toerusting en opleiding te borg.

SKUKUZA – Die twee skraal langore is nie sommer net gewone Oubaas se honne nie, al lyk dit asof hul opleier, mnr. Gaven Holden-Smith, eerder met die nege maande oue Badger en Bailie speel as wat hy opgeleide vierpootwapens teen stropers die veld instuur.

Badger en Bailie sluit eersdaags by die Nasionale Kruger Wildtuin (NKW) se K9-eenheid aan en maak die las ietwat ligter op die ander ywerige spoorhonde.

Hulle twee ouer broers het reeds hulle merk gemaak, ‘n reputasie as onverskrokke spoorhonde opgebou en gesorg dat ‘n paar stropers agter tralies kom.

Met hulle opleiding op sy wildplaas in Thabazimbi het Holden-Smith gesorg dat dieselfde resep op Badger en Bailie toegepas word.

Gaven Holden-Smith
Gaven Holden-Smith

Maar wat maak die langore se duur snuffelsnoete anders as die honde in die NKW K9-eenheid?

Die twee is deel van Holden-Smith se program om honde te teel wat ‘n koue spoor kan neem en dus vroegoggend nadat stropers ‘n  nag lank besig was, die veldwagters na hulle kan lei.

Hulle uitsonderlike uithouvermoë om kilometers in die bloedige hitte te kan stap is ook welbekend.

Die twee kom uit ‘n onlangse werpsel waarmee Holden-Smith ‘n proefneming gemaak het deur bloedhonde en Dobermanns te kruis.

Hy het reeds ‘n paar ander kruisings ook uitgetoets, maar die een werk volgens hom die beste. Met hierdie kombinasie kan stropers  maar weet Badger en Bailie se opspoorvermoë is erger as hulle blaf én hulle byt. Die kruising is 85% bloedhond en 15% Dobermann,  ‘n sterk kombinasie van spoor- en uithouvermoë.

 “Bloedhonde word al sedert die 12de eeu gebruik om mense se spoor te vat. Ons kan nie veel daarop verbeter nie. Ons wou net  die honde meer by hulle omstandighede laat aanpas,” sê Holden-Smith.

Die twee het danksy die samewerking van die Rotariërklub van Sandton, sowel as 10 van die klubs in Iowa, VSA deel van die eerste  span spoorhonde in die NKW geword wat koue spore met sukses kan volg.

Hulle opleiding, die hanteerdersopleiding sowel as toerusting en hondehokke het rofweg R90 000 gekos. Mnr. Rob Peacock en mnr. Craig Northwood het onlangs die bedrag aan mnr. Glenn Phillips, uitvoerende bestuurder van die wildtuin, oorhandig.

Die Amerikaners het verskeie toere van die NKW saam met die Suid-Afrikaanse Rotariërs meegemaak. “Die renostertroping het hulle bewaringsharte aangespreek en hulle wou daarna help met die bekamping daarvan. Die klubs het saamgespan om die geld in te samel,” sê Peacock.

IMG_1373 (Small)

As deel van die spoorhonde se opleiding het Badger en Bailie reeds verskeie kere tyd in die NKW deurgebring om gewoond te raak aan die reuke van die Groot 5 en ander diere.

Hulle is skraal, energiek en gereed vir snuffeltogte. Daarvoor is hulle vir spoorsny so teen 40 kilometer ‘n slag tydens hulle opleiding langs die Krokodilrivier geneem.

Sulke diere word opgelei vandat hulle vier maande tot een jaar oud is en word dan voltyds ingespan.

Mnr. Johan de Beer, hoof van die NKW K9-eenheid sê dat die twee hulself reeds bewys het waar misdaadtonele geskep is en spoorloopscenarios vir hulle nageboots is. Wanneer dit by die nuwe toevoegings tot sy span kom, sê hy: “Ek sien uit na die eerste stroper wat hulle sal vang.”

 

Johan de Beer van die NKW se K9-eenheid
Johan de Beer van die NKW se K9-eenheid

 

In die eenheid se span van 52 honde is daar onder meer hekhonde wat motors deursoek, wapenhonde en bedreigde spesie-honde.  Vir hom bly die toets vir ‘n goeie werkshond in die wildtuin of dié goeie dryfkrag het.

“As hulle lief is vir bal speel, kan jy maar weet hulle sal wil werk en nogmaals werk. Neus op die grond heeldag; hulle leef vir hul  neuse.”

De Beer erken darem ruiterlik daar is af en toe ook ‘n bederfie vir aanmoediging as Oubaas se honne van diens af kom. “Hulle hou  nogals van ‘n vienna so af en toe!”

Dan is daar ook sy eie honde wat die groot bederf het om by hom in sy huis te slaap. En dit vir die beste rede ooit… “Anders vang die  luiperds hulle.”

Back to top button