AnimalsLocal newsNews

Vernuftige DBV-inspekteur red brakkie na twee dae in kar se onderstel

Leerlinginspekteur en voorsitter van die Barberton DBV, Marcel Hoffman, het sonder twyfel die week onder 'n kar ingeseil op haar rug om 'n Jack Russel te red wat al twee dae in die kar se onderstel vasgesit het.

BARBERTON – Leerlinginspekteur en voorsitter van die Barberton DBV, Marcel Hoffman, is gewoond daaraan om selfs krokodille uit rioolplase te red, maar toe die getjank van Phumzile Dlamini se Jack Russell, Babysmall, na twee dae te veel vir die gesin geword het, het dit spesiale vernuf van hierdie flink en verbeeldingryke vrou geverg om die situasie te beredder.

Sy kon nie anders nie as om op haar rug in haar netjiese uniform – soos ‘n wafferse werktuigkundige – onder die motor in Naboomstraat in die Dikbas-area in te skuif nie.

Na die naweek se harde reën en donderweer het dié sag en lieftallige natneushondjie skuiling onder dié huisgesin van Barberton se motor gaan soek. Sy het haarself al hoe dieper in die moeilikheid ingewikkel en uit vrees in die onderstel se pype ingeklouter. Na twee dae was die verdwaasde eenjarige hondjie steeds in die staal doolhof vasgevang.

Die gesin het nie geweet watter planne hulle nog kan maak nie. Iemand sou haar oor die hondjie moes ontferm. Phumzile het die munisipaliteit vir hulp gebel en hulle het hul op die altyd bekwame en bereidwillige Barberton DBV beroep.

Vir Hoffman was daar geen ander uitweg as om onder die motor in te seil en met ‘n moersleutel die onderstel se bedekkingsplaat te begin loswikkel nie.

Dit was toe Maandag al so skuins voor 12:00. Onder aanmoediging van Phumzile se drie spruite Bunny, Khwezi en Siphosethu, het sy geleidelik aan die hondjie begin trek om haar uit die pype te kry totdat sy haar aan die nekhare kon uitlig sonder dat sy seerkry. Dit het so vyf minute geneem voordat sy die bewende lyfie in kinderhandjies kon plaas – al was haar uniform vol modder- en oliekolle.

“Deur die onderstel se keerplaat los te maak, was die enigste manier wat ek kon verhoed dat sy verder seerkry,” sê die vasberade inspekteur met die groen geverfde, goedversorgde naels.

“Toe ek daar aankom, het die gesin al als probeer, soos om hoenderbeentjies neer te sit. Die hondjie het net aanhou tjank en tjank. Ek kon gelukkig tussen die verkoelingspype vatplek aan haar kry.”

Honde wat sulke trauma deurgemaak het, se lyfies is as gevolg van skok en adrenalien gevoelig en seer. Tydens ‘n opvolgbesoek het Hoffman gevind Babysmall is blakend gesond. Hoffman waarsku, veral nou dat dit kouer word, dat bestuurders tog net moet afbuk om te kyk of daar dalk nie ‘n dier onder die kar is nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Check Also
Close
Back to top button