Viervoetiges baat by Laevelder se verjaarsdag

Die plaaslike DBV in Nelspruit is onlangs deur die span van die Laevelder se Geklassifiseerde Advertensies besoek om 'n skenking van kos sowel as liefde en drukkies uit te deel.

MBOMBELA – Die plaaslike DBV-tak het verlede week sy deure wyd oopgemaak toe hoof van Laeveld Media se geklassifiseerde advertensies, Roché Esterhuizen en haar span ‘n trollievrag kos by hul viervoetvriende gaan aflaai het. Hulle het ook sommer ‘n rukkie gebly om liefde en drukkies uit te deel.
Hierdie vrygewige gebaar maak deel van Laevelder se 130-jarige verjaardagvieringe uit, waartydens elke departement van die maatskappy op ‘n besonderse wyse ‘n bydrae aan die gemeenskap se welsyn maak en nood verlig.
Bydraes is ook deur Buhle Betfu, Montana Garden Pavilion, Laevelder Geklassifiseerde Advertensies, Alzu Voere, Ingrid Raikes (Dog Matters) en Bova K9 Foods gemaak.
“Ons waardeer werklik die skenking. Die verswakkende ekonomie het ons aantal diere die afgelope paar maande verhoog,” het Louie Amorim, voorsitter van die DBV gesê.
Die afgelope twee maande was daar te enige tyd tussen 220 en 240 katte en tussen 140 en 150 honde wat verwaarloos en eienaarloos ‘n tuiste by die DBV gevind het.
Die Laeveld Media-span se harte is gou gesteel deur veral die gemmerkatjies in die hokke, en veral na hulle die woefiewandel gedoen het. Die gees het hoog geloop, soveel so dat ‘n ander besoeker dié dag besluit het om ‘n wollerige worshondjie later te kom afhaal.
“Daar was onlangs ‘n paar ongewone toevoegings,” het Ilse Kruger, een van die administratiewe assistente by die DBV-kantore gesê en lieftallig die hondjie met die meeste karakter, ‘n Yorkshire-terriër, opgetel. Die hondjie is erg verwaarloos in die middestad gevind.
Ilse sit ook handjie by die DBV se welsynwinkel by, wat op die boonste verdieping in Nelacres-winkelsentrum in Figtreestraat oorkant Lowveld High, geleë is.
“Ons het pas ons wintervoorraad uitgepak. Daar is veral baie klere wat ons geskenk gekry het.
Skakel gerus vir Ilse by 013-753-3582 vir meer inligting oor die welsynwinkel.
Deon Combrinck, inspekteur by die DBV, het gesê dat hy elke werksdag ‘n geval hanteer waar ‘n dier mishandel word deur die gebruik van ‘n ketting om sy nek. Sulke diere word verwyder en ‘n klag word by die polisie gelê.
Sy wenk aan ondernemings waar katte aangehou word vir welke rede ookal, soos om knaagdiere te beheer, is dat ten minste twee van hulle, ‘n mannetjie en ‘n wyfie, gesteriliseer moet word. Dit sal keer dat ander wilde katte na die besigheid kom.
Een van die ander wreedhede wat hy teëkom is hoenders wat in hokke langs die pad aangehou word vir verkope. Die hokke moet groot genoeg wees vir pluimvee om regop in te staan.
Combrinck moes vroeër vanjaar vir die soveelste keer bont staan met sy slangstok by die DBV se kantore in Mbombela toe ‘n luislang hom op die balke bo die hondehokke kom tuismaak het. Ongelukkig vir die knewel werk Combrinck al meer as ses jaar met slange en kon hy hom vang en skenk aan ‘n boer wat slange op sy plaas loslaat.Verlede jaar het Combrinck vir ‘n ruim tyd met ‘n oogbesering rondgeloop toe ‘n spoegkobra hom by die DBV se hokke bygekom het. Dit was die tweede spoegkobra wat in sy tyd sedert Oktober verlde jaar by die hokke ‘n draai kom maak het.
“Die slange kom uit die hitte om op die koel sement te kom rus, maar ook omdat die diere moontlike prooi kan wees. Ons hou dus ‘n wakende oog oor die perseel.”
Combrinck het verduidelik dat van sy moeilikste reddingsoperasies is wanneer ‘n dier in ‘n stormwatertonnel vassit. “Die moontlikheid is groot dat jy dalk ook mettertyd self daarin gaan vassit!” As jy ‘n kat of hond ‘n goeie en veilige tuiste wil gee, skakel gerus die DBV by 013-753-3582.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version