Sylvester die leeu in berge vasgekeer en verdoof

Sylvester die leeu is nie meer op vrye voet nie en aangekeer in die bergagtige terrein van die Karoo Nasionale Park vroeg vanmiddag.

Sylvester die befaamde leeu van die Karoo Nasionale Park is vroeg vanmiddag net buite Beaufort-Wes deur die soekspan van SANParke gevind en deur ‘n verdowingspyl vanuit ‘n helikopter geskiet. Tans word die verdoofde leeu op ‘n draagbaar te voet vir drie kilometer na ‘n voertuig gedra. ‘n Vee-arts is op die toneel teenwoordig.
Die leeu sal in die Park in ‘n boma gehou word totdat ‘n finale besluit oor sy toekoms gemaak word.
SANParke het gister bevestig dat hulle vyf opsies oorweeg indien hy gevang word naamlik om die leeu terug te bring na die park en die heinings te verbeter, hom oor te plaas in ‘n ander nasionale park, hom aan ‘n ander bewaringsinstansie van die staat of ‘n privaat bewaringsentiteit toe te vertrou of hom uit te sit indien die skade wat hy aanrig groot is.
Vir die spanne wat vanoggend na die baasrondloperleeu 20 km wes van die Karoo Nasionale Park se westelike grens begin soek het, val die naam Sylvester dalk nie so maklik op die tong nie.
Die naam vir die wegloopleeu is drie jaar gelede aan hom toegeken deur boere in die omgewing. In die Park en onder veldwagters is Sylvester se bynaam egter “Spook”, juis omdat hulle tydens dié soektog gevoel het dat hulle hom nooit gaan sien of aankeer nie. In ‘n stadium was dit net die ou maanhaar se spore wat hulle vir weke kon volg.
Maar vandag kon hulle ongewone sukses behaal en is die wegloopleeu binne drie dae gevind.
Fayroush Ludick, streekskommunikasiebestuurder vir SANParke, het vanoggend vroeg bevestig dat twee helikopters reeds in die lug is om na die kraagmannetjie te soek. Sylvester is toegerus met ‘n nasporingtoestel sedert sy vorige uitstappie. Die bestuur van die Park kon hom via ’n satellietnasporingtoestel volg.
Wanda Mkutshuklwa van SANParke se korporatiewe afdeling het veel later gesê dat die veldwagters vanoggend uit die veld laat weet het dat die opsporingstelsel aandui dat hy van gisteraand min beweeg het.
“Die area is bergagtig en daar is baie klofies en wegkruipplekke daaronder. Die span moes ekstra versigtig in die veld beweeg.”
Met sy vorige uitstappie het die voortvlugtige leeu 24 dae van vryheid geken toe hy tussen Beaufort-Wes, Fraserburg en Leeu-Gamka op vrye voet was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version