Hard newsHealthLifestyleLocal newsNews

Seuntjie vorder goed ná die regte diagnose

Alhoewel daar nog infeksie is en sy witbloedselle teen die rooibloedselle "baklei", is die dokter baie tevrede met sy vordering.

MBOMBELA – Na maande se onsekerheid oor wat presies haar kind makeer, kan Alana Cilliers eindelik ‘n sug van verligting slaak.

Haar negejarige seuntjie, Arthur, is Maandag in Steve Biko met dikderm-ontsteking (kolitis) gediagnoseer – dit nadat dokters hom weke lank vir Crohn se siekte behandel het.

Volgens Alana het Arthur se toestand by die dag versleg en het hy ondanks behandeling begin bloed braak. Hy is einde Mei na die hospitaal geneem nadat sy ma onraad vermoed het. Hy het sedertdien 12 kilogram verloor.

Dokters het hom verlede week na Pretoria verwys waar hy Maandag deur dr. Lesley Hendricks met kolitis gediagnoseer is. Dit verwys na ontsteking van die binnewand van die kolon.

Alana het Dinsdag aan Laevelder gesê dat alhoewel daar nog infeksie is en sy witbloedselle teen die rooibloedselle “baklei”, die dokter baie tevrede met sy vordering is.

Arthur is Maandag ontslaan en volgens Alana sal hy voortaan by die huis behandel word.

Alana sê hulle bly egter die week nog in Pretoria net om doodseker te maak “Boeta”, soos sy hom noem, is buite gevaar. Hy is haar enigste kind. Hulle behoort oor die naweek terug Laeveld toe te keer.

Alana, wat haar man Oktober verlede jaar na ‘n siekbed aan die dood afgestaan het, het die gemeenskap wat haar die afgelope paar maande ondersteun het, hartlik bedank.

Back to top button