Hard newsHealthInternationalLifestyleLocal newsNewsScience

Stamselle verrig wondere

Dr. Hein van Wyk bewaarheid 'n vierjarige seuntjie se droom om te loop.

WITRIVIER – ‘n Vierjarige serebraal-gestremde seun het Woensdag sy eerste treë gegee, te danke aan dr. Hein van Wyk se stamselnavorsing.

Wandré Els kon nooit sy bene reguit maak of optel nie. Hy kon slegs agtertoe in sy rystoel beweeg. Woensdag het hy en sy ma, Annatjie hand aan hand by Van Wyk se kantoor uitgestap.

Dit volg na twee weke se intensiewe plaatjieryke plasmabehandeling en ‘n dag se stamseloorplanting. “Die neuroanti-inflammatoriese effek van die stamselle veroorsaak dat die spastisiteit in pasiënte drasties verminder,” sê Van Wyk. “Sommige effekte is onmiddellik en duidelik sigbaar, selfs terwyl ons die stamselle toedien. Die pasiënte se arms raak stelselmatig meer reguit en hul gesigte raak meer ontspanne.”

Wandré ontang al vir twee weke plaatjie-behandeling en het Woensdag vir die eerste keer stamselle ontvang. “Alhoewel sommige effekte gesien kan word, sal die stamselle se volle effek eers oor drie of vier weke verskyn en dan is dit blywend. Die plaatjieryke plasma het ook genesende eienskappe, so dit het baie gehelp om Wandré se spraak en motoriese vaardighede te verbeter.”

Van Wyk is een van vier dokters in die land wat tans met stamselle werk. Hy en sy kollegas gebruik geaktiveerde bloedplaatjies om inflammasie of afbrake in die liggaam op te spoor. Geaktiveerde plaatjies is meer doelgerig en sterker. “Die plaatjies is soos Pac-Man wat oral beweeg en sy teiken soek. Dan stuur hulle ‘n sein aan stamselle sodat hulle ‘weet’ waar om te gaan werk. Omdat stamselle neutraal is, kan hulle enige weefsel word. Die stamselle ‘verstaan’ dan dat hulle senuweeselle moet word om die senuwee te genees. In die plasma is daar ook baie selle wat inflammasie behandel en daarom is dit dan ook anti-inflammatories. Dit werk uitstekend vir serebrale verlamming.”

Bloedplaatjies word uit geskenkte bloed getrek en stamselle uit vetweefsel. Sekere groeifaktore word saam met die plaatjies uitgetrek en saam met die stamselle en plaatjies toegedien. “Hulle soek die afbreking uit, die stamselle volg en die groeifaktore werk soos kunsmis vir die stamselle.”

Die etiek van stamselnavorsing is al hoog en laag bespreek, maar volgens Van Wyk hoef stamselle nie noodwendig op ‘n onetiese wyse verky te word nie. “Ons oes die stamselle uit vetselle en nie uit plasentale weefsel nie. Die laasgenoemde wyse is ‘n teerpunt vir baie mense. Stam-selle van vet is die veiligste om te oes en dit kan brein- of senuweeweefsel word.”

Van Wyk sê die waarheid is dat stamselnavorsing gebruik kan word om sommige ongeneesbare toestande, soos diabetes of breinskade, te behandel. “Spesialiste in Rusland is tans besig met dié navorsing en dit sal binnekort beskikbaar wees.” Hy werk al ‘n jaar met stamselnavorsing en sy kollegas is al agt jaar daarmee besig. In dié tyd is daar nog geen newe-effekte in pasiënte opgemerk nie. Daar is ten minste 36 serebraalgestremde kinders in die land waarvoor dié behandeling al gewerk het.

“Wandré kan self die verskil agterkom,” sê Annatjie. “Hy besef hy kan nou fietsry. Hy is so trots op homself, hy roep elke keer die hele gesin om te kyk hoe hy ry. Die behandeling is wonderlik. Ek wens ons het vroeër na Van Wyk toe gegaan.”

Back to top button