Editor's choiceEditor's noteLocal newsNews

Motoriste in die dorp ignoreer padtekens

BURGERSFORT – Dit blyk eenvoudig of sekere inwoners van die omgewing nie kan lees nie want drie bordjies word daagliks voor Laerskool Burgersfort se ou ingang geïgnoreer. Die bordjies wat lees, “No parking”, “no hawkers” en “keep Burgersfort clean” keer nie die inwoners van die omgewing om dié reëls te breek nie. Boonop raak die …

BURGERSFORT – Dit blyk eenvoudig of sekere inwoners van die omgewing nie kan lees nie want drie bordjies word daagliks voor Laerskool Burgersfort se ou ingang geïgnoreer.

Die bordjies wat lees, “No parking”, “no hawkers” en “keep Burgersfort clean” keer nie die inwoners van die omgewing om dié reëls te breek nie. Boonop raak die skool se beheerliggaam bekommerd oor die veiligheid van die spesifieke hek se gebruikers.

“Die grootste probleem is dat wanneer daar motors geparkeer is die bestuurders van die voertuie wat die skoolterrein verlaat nie aankomende verkeer kan sien nie. Dit sal nie verbasend wees as iemand ‘n ongeluk daar maak nie,” sê waarnemende voorsitter van die skool se beheerliggaam, me. Elize Moll.

Sy is ook bekommerd dat die penarie van die rommel voor die erf ‘n slegte beeld van die skool kan oordra. “Ons is baie ongelukkig oor die feit. Dit is nie dat ons die papiere neergooi nie maar dit lyk so omdat dit op ons perseel is. Die “no littering”-bordjie is daar maar die mense kan of dit nie lees nie of hulle steur hulself nie daaraan nie. Ek dink nie die situasie gaan gou verbeter nie,” vertel Moll.

Steelburger/Lydenburg nuus het na die plaaslike Greater Tubatse Munisipaliteit gery om antwoorde by die woordvoerder, Thabiso Mokoena te kry na ‘n paar selfoon oproepe onsuksesvol was. Mokoena was ongelukkig weereens nie beskikbaar nie.

Moll het aan die koerant verduidelik dat die skool se hande afgekap is om die situasie te verbeter. ”Ek weet nie wat mens kan doen nie want dit kos geld om palisades of hout plankies op te sit. By winkelsentrums in die dorp is dit bewys dat mense in elk geval net die plankies omry of tussen dit parkeer. Dit is ‘n onaanvaarbare situasie wat ons nie weet wat om te doen nie,” verduidelik sy.

Die skool voel ook dat dit die verantwoordelikheid van die winkel oorkant die straat behoort te wees. “Ek dink nie die winkeleienaar sal enigeiets aan die probleem doen nie. Dit is tog sy kliënte wat so onverantwoordelik optree en hy maak geld uit die mense uit. Ek weet net die hele storie hou ‘n groot gevaar vir die gebruikers van ons hek in,” sê Moll.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button