Hard news

Huldeblyke stroom in vir Laeveld se geliefde Monique

Monique het voluit geleef en was lief vir almal. Haar ontydige afsterwe is 'n skok vir die Laeveld-gemeenskap.

Huldeblyke stroom van regoor die Laeveld in nadat Monique de Jager (28) gisteroggend, 18 September, dood in haar bed aangetref is.

“Ons besef nou eers hoe geliefd sy in Mbombela en buite die dorp was,” sê haar ma, Sanet, omtrent die string boodskappe wat hul steeds ontvang.

ALSO READ: SANParks wilderness trail guide arrested in Kruger Park

Volgens haar blyk die oorsaak van Monique se ontydige afsterwe ’n hartaanval te wees. Haar liggaam is omstreeks 07:00 ontdek en haar ma meen die aanval moes in die vroeë oggendure plaasgevind het.

“Sy was ’n awesome mens wat haar hele hart gegee het in alles wat sy gedoen het,” het Sanet aan Laevelder vertel. Sy sê Monique was ook ’n vredemaker, lief vir almal en vinnig om te vergewe.

Monique was sedert die begin van die jaar aan die bestuur van Klipspringer Lodge net buite Mbombela, waar sy volgens haar ma geblom het. “Sy was in haar happy place.

Dis hier waar sy haar liefde vir boogskiet ontdek het.”Sy het net Sondag [15 September] haar persoonlike beste telling aangeteken,” het Sanet gesê.

Monique sou op 4 Oktober haar 29ste verjaardag gevier het. Haar partytjie was reeds gereël, net soos wat sy dit wou gehad het. Sanet sê Monique sou wou hê die partytjie moes voortgaan en dus het die familie besluit om dit te doen.

Sy was voorheen ’n onderwyser by Pro Gratia-opvoedingsentrum waar sy vele kinders en ouers se lewens aangeraak het. Die skool het haar in ’n Facebook-plasing as die lig in elke kamer beskryf en het vertel hoe haar lag die skool se gange gevul het.

ALSO READ: Missing White River girl found

Annelieze Gebhardt-Carey skryf: “Sjoe, dit voel onwerklik. Jou net nou die dag gesien … en Tanya was so bly om haar ‘juffrou’ te sien … Jou sonskynpersoonlikheid gaan gemis word. Jy het so baie kindertjies se lewens op ’n mooi manier geraak. Rus sag.”

Amelia Lombard skryf: “Niks was te groot vir haar om aan te pak nie; waar sy kon, het sy gehelp – sy was ’n lieflike mensie!”

Deon van Staden skryf: “Grootste skok! Monique, jy was ’n groot Laeveldboom wat geval het, maar jou diep wortels sal niemand kan uitkap nie. Gaan jou mis. Stuur asb. baie veertjies …”

Monique se begrafnisdiens vind op 25 September te NG Westergloed plaas om 10:30 vir 11:00. Enige iemand wat hul respek wil toon is welkom.

You can read the full story on our App. Download it here.

Jacqueline Herbst

Lowvelder's News Editor/Senior Journalist. I am an investigative news hound and photographer who has contributed to several prominent publications, including the Sunday Times, The Witness, The Citizen, and a few of Caxton's local titles. I also have experience in TV and radio. Although I can write about almost anything, my heart is in investigative and sport journalism.
Back to top button