Hard newsNews

Opvolg op gekaapte vrou: bidgroep gestig terwyl gemeenskap bly soek

Daar word tans na die voertuig gesoek op hoofroetes in die Laeveld.

08:25: WITRIVIER – ‘n Soekgeselskap wat uit lede van die polisie, sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede bestaan het ongeveer ‘n uur gelede vanaf Casterbridge vertrek om verder na me. Annatjie Myburgh te soek.

Van die soeklede wat vanoggend vanaf Casterbridge vertrek het.
Van die soeklede wat vanoggend vanaf Casterbridge vertrek het.

Myburgh het gisteroggend nie by die werk opgedaag nie en dit word vermoed dat sy by die hek na haar plaashuis op Curlews gekaap en ontvoer is. ‘n Soektog na haar is gister van stapel gestuur. ‘n Deel daarvan het gisteraand afgestaan, terwyl sommige soeklede deurnag bly soek het.  Kospakkies is onder andere deur Bahati Amakiti aan die soeklede voorsien.

J&M Sekuriteit se mnr. Shaun Terblanche het gesê dat die groep aanvanklik op die Masoyi-area sal fokus in die soek na Myburgh.

07:00: WITRIVIER – Die polisie, sekuriteitsmaatskappye, boere en ander lede van die gemeenskap vertrek vanoggend vanaf Casterbridge om verder na me. Annatjie Myburgh te soek.

Sy het gister nooit by haar werk opgedaag nie en is vermoedelik by die hek na haar plaashuis op Curlews gekaap en ontvoer. ‘n Deel van die soekgeselskap het gisteraand afgestaan, terwyl sommiges aanhou soek het.

Intussen is ‘n groep op Facebook, Bid vir Annatjie Myburgh, gestig en het reeds 2 700 lede. Dit het lede van sover as die Kaap wat hulp aangebied het in die vorm van vervoer en kospakkies vir die soekgeselskap.

Kapt. Pieter Smit, bevelvoerder van die polisie se blitspatrollie, het gesê dat hy lanklaas sulke betrokkenheid van ‘n gemeenskap ervaar het en dit hom trots maak.

20:30: WITRIVIER – Daar word tans kospakkies vir sowat 50 mense saamgestel om uit te deel onder die soekgeselskap wat nog onverpoos na me. Annatjie Myburgh soek.

Mnr. Cecil Thornhill van Ella Combrink Kampterrein, het by navraag gesê dat hulle besig is om kospakkies te maak vir sowat 50 mense wat binnekort afgehaal en versprei sal word onder die mense wat deur die nag na Myburgh sal soek.

Die pakkies word tans op die kampterrein verpak.

Intussen het bronne na aan die ondersoek gesê dat hulle nog geen verdere positiewe leidrade het om op te volg nie. Gerugte dat Myburgh se Pajero opgespoor is en vanuit die lug met ‘n helikopter gevolg word, is deur dié bronne weergelê.

16:35: WITRIVIER – Daar is nog geen teken van me. Annatjie Myburgh (in haar 50’s) wat vanoggend vermoedelik by haar plaashek gekaap is nie. Haar Pajero is ook nog soek.

Die polisie se lugvleuel, blitspatrollie en honde-eenheid help met die soektog, verskeie sekuriteitsmaatskappye asook lede van die gemeenskap.

Die polisie het ook pas ‘n verklaring uitgereik waarin hulle mense vra om op die uitkyk te wees vir Myburgh en haar voertuig.

“Inligting tot ons beskikking wys dat Myburgh op pad werk toe was toe vier gewapende mans haar by die hek oorval het,” het sers. Gerald Sidebe, provinsiale polisiewoordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

“Die verdagtes het met haar in haar Mitsubishi Pajero weggery,” lui die verklaring verder.

Mnr. Shaun Terblanche van J&M Sekuriteit, het vanoggend gesê Myburgh moes 08:00 by die werk gewees het, maar het nooit opgedaag nie. Hulle is na die plaas waar sy woonagtig is om ondersoek in te stel en het kapmesse by die hek opgetel.

“Ons het ‘n sterk vermoede dat sy gekaap is,” het hy gesê. ‘n Whatsapp is kort hierna uitgestuur wat vra dat mense op die uitkyk moet wees vir haar voertuig, ‘n wit Pajero met die registrasienommer, CHF 482 MP.

Laevelder het intussen betroubaar verneem dat Myburgh se bril ook op die toneel opgetel is.

‘n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en Myburgh se selfoonsein is by Jerusalem Trust opgespoor. Dit het egter kort hierna verlore geraak, vermoedelik omdat die foon óf afgeskakel is óf die battery pap geraak het.

Volgens Whatsapp’s wat tans die ronde doen, word daar ook na die voertuig gesoek in plantasies in die Graskop-omgewing.

Myburgh se Pajero.
Myburgh se Pajero.

Back to top button