Video van ongeluk: familie verwag arrestasie

Sedibe het gesê dat die ondersoekbeampte die video by Laevelder sal kom kry en dat dit deel sal vorm van die ondersoek. Teen druktyd het die ondersoekbeampte dit nog nie gedoen nie

MBOMBELA – Die naasbestaandes van mnr. Renier van Vuren (31) wat verlede maand dood is toe hy op sy motorfiets met ‘n bakkie in Samora Machelrylaan (ou N4) gebots het, is ontevrede omdat die bestuurder van dié voertuig nog nie aangekla is nie. Daar is boonop ‘n video wat duidelik wys hoe die bakkie voor Van Vuren ingery het.

Laevelder het op 26 April berig dat Van Vuren twee dae tevore op pad terug huis toe was nadat hy sy motorfiets vir ‘n voornemende koper gaan wys het. Dít nadat sy verloofde, me. Karen Wiid hom gevra het om daavan ontslae te raak juis omdat sy van mening was dat motorfietse gevaarlik is.

Lees ook: Verloofde se grootste vrees bewaarheid

Iemand het Wiid daardie Sondagmiddag gebel en meegedeel dat Van Vuren in ‘n ernstige ongeluk voor I’langa Mall betrokke was. Sy het haar daarheen gehaas en mense op die toneel het aan haar vertel dat die bakkie, wat vanuit I’langa op die N4 ingedraai het, Van Vuren se motorfiets getref het, waarna hy op sy beurt in ‘n voetganger vasgery het.

Paramedici het lank gespook om Van Vuren by te bring, maar hy is op die toneel dood verklaar. Die “voetganger” het ‘n gebreekte arm opgedoen en is na Rob Ferreira Hospitaal geneem.

Die video wys egter dat die sogenaamde voetganger inderwaarheid ‘n passasier agterop die bakkie was. Dit is geneem deur ‘n kamera by die Puma-vulstasie oorkant I’langa. Dit wys hoe die bakkie vanuit die inkopiesentrum skuins oor die pad ry na die vulstasie.

Van Vuren, wat in Mbombela se rigting onderweg is, ry in die bakkie vas. ‘n Passasier agterop die bakkie trek deur die lug en val net langs die eiland in die pad. Van Vuren land op die ander kant en rol ‘n entjie verder voordat hy tot stilstand kom. Die bakkie hou aan ry en maak ‘n U-draai by die vulstasie en ry terug in die rigting van die ongeluk.

Hierna is die bakkie nie meer in die video sigbaar nie. Dit is dus nie duidelik of die bestuurder wel by die toneel gestop het nie.

Wiid en paramedici het later aan Laevelder genoem dat hulle nié die betrokke bakkie op die toneel gesien het nie. Hoewel die polisie aangedui het dat hulle ‘n saak van strafbare manslag ondersoek, wou Wiid en Van Vuren se familie kort na die ongeluk weet hoekom die bestuurder van die bakkie nie van roekelose en nalatige bestuur aangekla word nie. “Hy het boonop die toneel verlaat, hoekom word hy nie gearresteer nie?” het hulle gevra.

Laevelder het navrae aan die provinsiale polisiewoordvoerder, sers. Gerald Sedibe gerig, hom ingelig van die video en aangebied om dit aan die polisie beskikbaar te stel, juis om hulle met hul ondersoek by te staan. Sidebe het gesê dat die ondersoekbeampte die video by Laevelder sal kom kry en dat dit deel sal vorm van die ondersoek. Teen druktyd het die ondersoekbeampte dit nog nie gedoen nie.

Sedibe het voorts gesê dat die dossier waarskynlik eers vir ‘n beslissing na ‘n staatsaanklaer verwys sal word, voordat die bestuurder aangekla sal word.

Wiid en Van Vuren se familie is bewus van die video op Laevelder se webblad en verwelkom dit. Hulle hoop dat die video daartoe sal bydra dat “geregtigheid geskied”.

Exit mobile version