Pienkvoet gebore na ma vasgekeer is deur vloedwater

'n Vrou wat Woensdag 'n keisersnit moes ondergaan, het die ergste gevrees toe sy en haar man nie hul plot kon verlaat nie omdat die paaie onbegaanbaar weens die swaar reën was.

LOW’S CREEK – Die vinnige optrede van paramedici, reddingswerkers en lede van die gemeenskap se goedhartigheid het egter verseker dat hul tweede kind sonder enige komplikasies gebore is.

Jacques en Ilse Bosch bly al vier jaar in die Honeybird-omgewing. Hierdie week se reën was die swaarste wat hulle nóg hier ervaar het.

Ilse was teen Woensdag 38 weke swanger met hul tweede kind, ‘n seuntjie en kon weens erge skoliose (verkromming van die ruggraat) nie normaal geboorte skenk nie. Hulle was gereed vir die keisersnit en alles het volgens plan verloop, totdat die swaar reën Dinsdagoggend in die Laeveld begin uitsak het.

Jacques het nog om middernag na die Kaaprivier wat daar deurloop gaan kyk en gesien dat die pad nog heeltemal begaanbaar was. Teen 04:45 was hulle op pad na Nelspruit en toe Jacques en Ilse die brug bereik wat hulle moes oorsteek, was dit net massas en massas water. “Dit beteken dat die rivier se vlak met 24 meter binne daardie paar ure gestyg het,” het Jacques verduidelik.

Daar is ‘n ander pad wat oor ‘n treinbrug loop, maar dit was toe ook onder water. Hy het besef dat hulle moontlik ‘n paar dae sou kon wag vir die watervlak om te daal, maar hy was bang dat Ilse in kraam sou gaan en dan nie gou genoeg by ‘n hospitaal sou kon uitkom nie. Hy het Mediclinic Nelspruit gekontak en toe ER24. “Ek het eers met Hugo Muller gepraat wat my daarna na André Barnard deurgeskakel het.” ER24 is dadelik na die toneel en het gesien dat hulle nie die Bosch-egpaar sou kon bereik nie.

Dié het toe vrywilligers by Off-road Rescue Unit (Orru) gevra om te kom help. Anton Strydom en sy manne het hulle ook teen die malende massas water vasgeloop. “Hy het nog opgemerk, pêl, dis dan die see,” het Jacques glimlaggend vertel.

Hy het toe verwoed begin rondskakel om te kyk of hy ‘n helikopter gereël kon kry. “Daar is eers gesê dat hulle nie weens die reën en swak sigbaarheid sou kon vlieg nie. ER24 se beheerkamer het my egter binne 10 minute teruggeskakel. Ek is meegedeel dat daar een binne vyf minute by ons sou wees. Ek het nog met hulle oor die foon gesels, toe hoor ek dit al aankom.”

Dit was Mpumalanga Emergency Medical Services se helikopter wat tot hul redding gekom het. Die Bosch-egpaar praat met vol lof van Samantha, Steve en Wellington wat dit beman het. “Hulle was baie vriendelik en behulpsaam.”

Jacques en Ilse se bagasie kon egter nie saam na Nelspruit vlieg nie. Jacques het toe weer rondgeskakel en ‘n vriend, John van Merwe, het hom gehelp om te reël dat Danie hom met ‘n helikopter sou kon oppik. Ilse het al intussen by Mediclinic geland, maar wou nie teater toe gaan sonder haar man nie. “Al die personeel by die hospitaal was gelukkig baie vriendelik en het begrip daarvoor gehad,” het Ilse vertel.

Jacques het 35 minute later opgestyg en daar is gereël dat hy ook by die hospitaal kon land. Klein Benjamin is uiteindelik om 12:13 gebore en het 3,1kg geweeg en was 53cm lank.

Ousus Lené (3) moet nou saam met Oupa en Ouma op die plot wag en kon nog nie haar boetie ontmoet nie. Die Bosch-egpaar weet nie hoe hulle gaan terugkeer huis toe nie. Vir nou is hulle net dankbaar dat Benjamin gesond en sonder enige komplikasies gebore is. “Dit was amazing om te sien hoe almal gehelp het. Ek het lanklaas sulke companionship gesien,” het Jacques gesê.

Exit mobile version