Local newsNewsNews

Boer sterf in ertsvragmotor ongeluk

Die R36/Bambi-pad, wat al vir meer as vyf jaar onder konstruksie is, het Woensdagaand, Oktober 2, die lewe van ’n Lydenburg-boer geëis.

’n Ongeluk het Woensdagaand, Oktober 2, tot die dood van ’n Lydenburg-boer, Johan Klingbiel (49), gelei toe sy Toyota Land Cruiser met ’n ertsvragmotor op die R36/Badfontein-pad gebots het.

Nooddienste is na die toneel ontbied, maar daar is gevind dat Klingbiel noodlottige beserings opgedoen het en hy is op die toneel dood verklaar.

Die ongeluk het op ’n blinde hoogte en om ’n blinde draai op die pad plaasgevind. Na wat verneem word het die vragmotor skielik voor Klingbiel in sy baan verskyn. Die vragmotorbestuurder het glo probeer terugdraai na sy eie baan toe die agterste een van die twee ertswaens die bakkie tref. Die impak was so groot dat twee van die wa se wiele heeltemal van die as afgeskeur is.

Also read: Ore trucks causing damage to Lydenburg’s roads again

Waarom die vragmotor in die eerste plek in die baan vir aankomende verkeer was, sal deel van die ondersoek uitmaak.

Die gemeenskap van Badfontein is in skok gedompel, aangesien Klingbiel bekend vir sy bydraes tot die plaaslike landbou was en alom gerespekteerd was.

Gideon Cross, een van die plaaslike boere in die Badfontein-distrik, het aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel dat Klingbiel en verskeie ander boere, insluitende homself, ’n Boeredag by die Badfontein-boeresaal bygewoon het.

“Ons het juis gepraat oor die toestand van die pad en die trokke wat so onverskillig ry. Ek het nog sy hand geskud en gesê dat hy veilig moet ry. Hy het vir my gesê om nie bekommerd te wees nie en dat hy wakker is wanneer hy bestuur. Skaars ’n uur later het ek die oproep ontvang dat Johan verongeluk het,” sê hy.

Die impak was so groot dat twee van die vragmotor se wiele heeltemal van die as afgeskeur het

Volgens Cross ry van die ertsvragmotors tot so vinnig as 160 tot 180 km/h op dié pad.

Die Bambi/R36/Badfontein-pad is al vir meer as vyf jaar onder konstruksie. Die projek word deur die Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer hanteer. Volgens ingeligte bronne is daar deurgaans geskille tussen die department en die aangestelde kontrakteur. Dit lei tot die vertraging van die projek en die afhandeling van die rehabilitasie van dié pad.

Die boere van die gemeenskap in dié omgewing veg al ’n geruime tyd teen die haglike toestande. “Die pad is ’n nagmerrie. Ek kry daagliks oproepe van mense wat meld dat hulle amper dood daarop is. Ons vrouens en kinders ry die pad daagliks,” meen Cross.

Johan Klingbiel se Land Cruiser. Foto’s: Verskaf

Plaaslike owerhede ondersoek die omstandighede rondom die ongeluk. Sers. Cave Dilebo, polisiewoordvoerder van die Lydenburg SAPD, het die voorval bevestig. ’n Saak van strafbare manslag is geopen.

Klingbiel se vrou, Nicky, is ’n plaaslike onderwyser by Estralita Skool vir gestremde leerders.
Die bestuurder van die ertsvragmotor het slegs ligte beserings opgedoen.

Die Lydenburg DA, by monde van raadslid Spiros Couvaras, het hulle diep berou oor die afsterwe van Klingbiel uitgespreek. “Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe ’n groot verlies dit vir die gemeenskap en sy familie is nie.”

Couvaras het ook beklemtoon dat die onverskillige bestuurdery van die ertsvragmotors snags ’n reuseprobleem is. “Dit is abnormale vragte wat vervoer word. Sulke vragte mag nie in die nag ry nie. Die wetgewing rondom dit het nie verander nie. Hulle moet begelei word en ’n fooi betaal om snags te ry.”

Couvaras meen dat verkeerstoepassing strenger toegepas moet word. “Dit is jammer dat wetteloosheid gelei het tot die dood van ’n broodwinner, pa en gesiene boer. Dit moet nou end kry. Die wet moet toegepas word in alle omstandighede,” meen Couvaras.

Steelburger/Lydenburg Nuus het navrae aan die woordvoerder van Mpumalanga se departement van openbare werke, paaie en vervoer, Bongani Frederick Dhlamini, gerig rakende die situasie en hoe veiligheid op die pad opgeskerp gaan word.

Dhlamini het namens die departement reageer en gesê; “Die departement wil graag sy meegevoel aan Klingbiel se familie, vriende en medeboere betuig. Die konstruksiespan het wel voldoende waarskuwingstekens en verkeersmaatreëls in plek om die veiligheid en verkeersvloei gedurende die konstruksietydperk van die projek te verseker. Ongelukkig vereis dié maatreëls die samewerking en geduld van alle padgebruikers, wat nie altyd die geval is nie.”

Volgens hom word die rehabilitasie word in vyf afsonderlike afdelings gedoen en tot op hede word verkeer op twee voltooide dele toegelaat.

“Die oopstel van die pad sal progressief gedoen word totdat die projek voltooi is. Die huidige fisiese vordering is op ongeveer 75%, met ongeveer 6,4 km van die projek wat nou oop vir verkeer is,” sê hy.

Volgens Dhlamini sal die pad se konstruksie teen Desember 12 voltooi wees. Die hele gedeelte wat tans in aanbou is sal dan, volgens Dhlamini vir verkeer oopgestel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button