Veteraansportfotograaf Wessel Oosthuizen roep rugby vaarwel

Oom Wessel se fotografie loopbaan is al 62 jaar aan die gang. Hy tree nou amptelik af.

Kort ná sy aftrede maak veteraansportfotograaf Wessel Oosthuizen gereed om op 28 September vir die laaste keer rugby by die Mbombela Stadion tydens die Springbokke se toets teen Argentinië by te woon.

Oosthuizen (81) het tydens die Spring-bokke se toets teen die All Blacks op Emirates Airline Park amptelik as fotograaf afgetree, maar hy het dit steeds skelmpies probeer doen en rustig in die stille nag van aftrede weggesluip. Nadat hy op sosiale media gegroet het, het sy kollegas hom egter oortuig om vir oulaas Mbombela Stadion toe te kom, nie om die wedstryd af te neem nie, maar eerder net om totsiens te sê.

Oosthuizen se loopbaan as sportfotograaf het begin toe hy slegs 19 jaar oud was. Nou, 62 jaar later, het hy uiteindelik gevoel dit is tyd om sy legendariese loopbaan tot ‘n einde te bring. “Ek het net na my foto’s gekyk en besef hierdie is nie meer op die standaard waarop ek myself hou nie,” het hy dié week aan Laevelder vertel.

Wessel Oosthuizen en Johan Orton. > Foto’s: Verskaf/Johan Orton

Dié bekroonde fotograaf se loopbaan is een waarop enige mens sal trots wees, en sy lys van toekennings is omtrent nimmereindig. Sy onlangste een het ná die 2019 Rugbywêreldbeker in Japan gekom toe hy SA Brouerye se aksiefoto van die jaar gewen het vir sy foto van die All Blacks se Beauden Barrett wat die Bokke se Cheslin Kolbe takel.

Dit is eintlik heel gepas dat hy sy foto-grafieloopbaan tydens ‘n All Blacks-Springbokke-toets beëindig het, want dit is gedurende so ‘n wedstryd tussen die twee in 1960 dat hy vir die eerste keer sy passie vir fotografie ontwikkel het.

Een van Wessel Oosthuizen se bekendste foto’s, met Elroy Bumper Gouws in aksie. > Foto: Wessel Oosthuizen

Oor die jare is Oosthuizen al wêreldwyd bekend vir sy dienste aan Suid-Afrikaanse sport en rugby spesifiek. Maar vir die mense na aan hom sal hy vir sy skerp humorsin onthou word – selfs skerper as sy foto’s.

Johan Orton, ‘n Mbombela-inwoner, professionele sportfotograaf en Oosthuizen se vriend, het baie spesiale herinneringe van dié legende. “Ons het saam die 2019 Rugbywêreldbeker afgeneem, en ons het daar ons vriendskap ontwikkel,” vertel hy. “Almal noem hom oom Wessel of Oupa, en hy is ‘n mentor vir ons almal.”

Orton onthou graag sy gunstelingstaaltjie van oom Wessel. “In Japan kry ‘n mens mos spesiale toilette wat nie hier so gewild is nie, en al die kontrole is of in tekens of ‘n taal wat ons nie verstaan nie.

Die laaste foto wat Wessel Oosthuizen as professionele fotograaf geneem het na die einde van die Springbokke en All Blacks toets op Emirates Airline Park. > Foto: Wessel Oosthuizen

“Hy het die toilet probeer gebruik, maar die verkeerde waterskoonspuitknoppie opwaarts gedruk in plaas van die skoonspoelknoppie afwaarts. Ongelukkig kan ‘n mens nie sy reaksie direk aanhaal nie, maar ons het beslis lekker gelag, en dit is iets wat ek vir altyd sal onthou.”

Mark Alexander, die president van SA Rugby, onthou ook vir Oosthuizen as ‘n legende. “Om na Wessel Oosthuizen as die doyen van Suid-Afrikaanse sportfotografie te verwys, is volslae van pas,” het hy gesê.

“Wessel is ‘n onselfsugtige en trotse Suid-Afrikaner wat as besondere ambassadeur van ons land gedien het. Deur sy kameralens het hy die gees en prestasies van Suid-Afrika uitgebeeld. Van almal by SA Rugby sal sy teenwoordigheid aan die kantlyn van Springbok-toetse en ander wedstryde baie gemis word.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version