Nellies se liefde vir bome kweek nuwe projek

Binnekort gaan al die inheemse bome by Laerskool Nelspruit met hulle eie naambordjie spog, met die suksesvolle implementering van die eerste fase van die projek wat nou voltooi is.

Laerskool Nelspruit het die inisiatief geneem om ‘n projek te loods om al die inheemse bome wat op die skoolterrein voorkom, te begin benoem.

Dit is natuurlik ‘n baie tydsame proses, maar aan die einde van fase een kan die laerskool reeds met 32 inheemse boomspesies spog. Die Nellies het kenners wat bekend is vir hul liefde vir bome genader en gevra om te help om hulle te identifiseer.

Flipman du Plessis van Pretoria het aan die stuur van sake gestaan en hy is deur Kobus en Jeanette de Witt van Mbombela, asook Neels Snyman wat die vervaardiging van die naambordjies behartig het, ondersteun.

Flipman du Plessis en Jeanette en Kobus de Witt. > Foto’s: Verskaf/Laerskool Nelspruit

“My liefde vir die bome lei tot ‘n inheemse boomkwekery in Pretoria. So leer ek bome meer intens ken. In 2005 tree ek af en verhuis na ‘n natuurreservaat in die Thabazimbi-distrik. So word ‘n droom verwesenlik. Hier land ek tussen ‘n groep liefhebbers en kenners van inheemse bome. Baie ure en jare se passie en liefde vir bome. Dit is eerder ‘n roeping, met ons leuse: ‘Bekend maak bemind’,” het Du Plessis gesê.

Laerskool Nelspruit se Fourie du Plessis het die projek geloods en van stapel gestuur. “Ek het ‘n groot liefde vir die natuur. Bome fassineer my ongelooflik baie!” het hy gesê.

Die doel van die projek is ook om die liefde vir die natuur by die skool se leerders te kweek en belangstelling in bome te prikkel.

Wat die skool se naambordjies so uniek maak, is die QR-kode daarop wat met ‘n slimfoon geskandeer kan word, en onmiddellik kry jy dan meer inligting oor die betrokke boom.

Die skool se bordjie spog met ‘n unieke aspek in die vorm van die QR-kodes. > Foto’s: Verskaf/Laerskool Nelspruit
Exit mobile version