Hoërskool Nelspruit-leerder laat motorfiets vir KANSA brul

Vir dié graad 10-leerder van Hoërskool Nelspruit is hierdie motorfietsrit ’n persoonlike een. Roete 74 kom Vrydag, 6 Oktober na ’n week lange reis deur ses van ons land se provinsies tot ’n einde.

Henrike (16) en haar pa, Gideon de Wet het op Vrydag, 29 September, hul ysterperde opgesaal en met hul 2 500 km-rit ten bate van KANSA begin.

Dié fondsinsamelingsinisiatief spruit uit die De Wets se eie ervaring met kanker.

Binne ’n tydperk van drie jaar het hulle drie familielede aan die dood afgestaan.

“Hierdie is ons manier om hulle te onthou,” skryf dié twee op hul Facebook-blad.

Henrike se ouma is in 2019 ná ’n 10 jaar lange stryd met borskanker oorlede. Daardie selfde jaar is haar oom met kolonkanker gediagnoseer. Haar ma, Hentie, is ook aan die einde van 2019 met die siekte gediagnoseer.

Vir Henrike is hierdie reis op haar motorfiets dus ’n persoonlike een.

Die De Wets het gekies om hul reis ‘Roete 74’ te noem om die geboortedag van Henrike se ma te herdenk. Buiten dié simboliek, beloop die teikenbedrag wat Henrike hoop om in te samel, R74 000 te wees.

LEES OOK: Prag en praal by Lydenburg matrieks se afskeid

Die reis het verlede Vrydag by Hoërskool Nelspruit afgeskop. Intussen het hulle ook draaie in Polokwane, Rustenburg, Kimberley en Bloemfontein gemaak.

Roete 74 kom môre, 6 Oktober, tot ’n einde wanneer hulle die motorfietsenjins in Mbombela afsluit. Dié roete het hulle deur ses provinsies in net sewe dae geneem.

Laevelders kan Henrike en haar span om 16:00 by BMW Motorrad Nelspruit terugverwelkom.

Exit mobile version