Local newsNews

Lydenburg wyngilde bied ‘n gesellige aand vir wynliefhebbers

Die ses gesellige bottels rooi en wit wyne uit die Robertson-streek was ’n ware ontdekkingsreis.

Die aanbieders, Nico Davel en Lauren Williamson, het die Lydenburg Wyngilde by Café Crust op 19 September aan bekostigbare wyne met die Roberston Winery en Fat Bastard-etikette bekendgestel.

Davel kon glad nie sy passie vir chardonnay onderdruk nie en het die wynliefhebbers op ‘n ontdekkingsreis van Fat Bastard se sauvignon blanc en chardonnay begelei.

Die aand is ingelei met ‘n ligte pinotage rosé, lig in suiker, alkohol (net 9,1%) en prys – slegs R60 per bottel. Aan die ander kant van die suikerspektrum is die aand egter met Robertson Winery se gewürztraminer met ‘n allemintige 22g suiker per liter afgesluit.

Elmarie en Tielman Nieuwoudt, en Lauren Williamson, ’n wynkenner. 

“Proe julle die appelliefie, die grenadella en die koejawel in die bleker sauvignon?” het hy opgewonde begin, en toe opgebou na ‘n crescendo met die sagte, romerige, geler voggies van die gewilde chardonnay. Laasgenoemde was loshande die aand se wenwyn.

Onder die rooiwyne was Robertson Winery se The Blend, met sy peperige kruiesmaak ‘n kortkop voor die Fat Bastard Golden Reserve, ‘n cabernet-merlot-versnit. Teen R75 per bottel was The Blend ook as die wyn met die beste waarde vir geld gekies.

Soos wafferse melkterteters het almal aan Davel se eksperiment met ‘n leksel kaneel en suiker op die hand deelgeneem, afgesluk met die gewürz, ‘n billike bederf teen net R70 per bottel.

Die genotvolle wynkuier is aangevul met ‘n geroosterde tamatie-en-basiliekruidsop as voorgereg, en botterhoender met garnaalkerrie, bedien met sambals en poppadoms.

Die wyngilde verwelkom gaste en nuwe lede by sy maandelikse wynproe. Vir meer inligting, whatsapp Gerda Whitehorn by 079 515 7799.

Lees ook: Bekende sakeman van Mbombela buite Hazyview doodgeskiet

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button