Local news

Kom skud blad met oudrecces in Kaapsehoop

'n Aand vol strories en kwinkslae wat nog nooit in die media gedeel is nie, gaan deur oudrecces by die Nagkantoor op Kaapsehoop vertel word.

As jy meer te wete wil kom van die destydse recces se doen en late, wat nog nooit geboekstaaf is of in die media gedeel is nie, is Saterdag 30 September nou jou geleentheid.

Die bekende Nagkantoor op Kaapsehoop speel gasheer vir die geleentheid, Stories uit ‘n ou balsak: Gemengde gebeure, operasies en kwinkslae, waar oudrecce Jakes Jacobs as spreker gaan optree.

Jakobs was vanaf 1976 tot 1988 ‘n recce.

Hy het aan ‘n magdom operasies deelgeneem en het intensiewe spesmagopleiding ondergaan. Volgens Theo van Huyssteen, een van die organiseerders van die geleentheid, ‘n bekende Laevelder en self ‘n oudrecce, gaan Jacobs in diepte vertel oor operasies en oor voorvalle wat nooit in die media gedeel is nie.

Oudrecce, Jakes Jacobs. > Foto: Verskaf

“Die algemene publiek weet nie wie ons was en hoekom daar so min van ons was nie. Hier is ‘n geleentheid om meer uit te vind en van die manne te kan ontmoet en met hulle te kan gesels,” sê Van Huyssteen.

Die aand beloof om uniek te wees, en gaste sal die geleentheid kan kry om aangesig tot aangesig in Nagkantoor se gesellige atmosfeer werklike recces te ontmoet, en meer oor die geheime eenheid, die operasies en manne te wete te kom.

Lees ook: Geniet hierdie waterpret saam met die ATKV in Mbombela

Volgens Van Huyssteen is dit min dat so ‘n geleentheid soos hierdie hom voordoen.

“Sover ek weet is dit die eerste keer dat ‘n storieaand hier aangebied word,” sê hy.

Daar gaan ook staaltjies en kwinkslae met die gehoor gedeel word, want soos van Huyssteen dit stel, “Te midde van naelbytomstandighede, kom daar ook altyd ‘n tikkie humor uit, wat ‘n bewys is dat almal ook maar net normale mense was en is.”

Die geleentheid skop om 18:30 af en kaartjies beloop R200 per persoon, wat ‘n vingerete insluit. Vir meer navrae en besprekings, skakel Van Huyssteen by 083 564 5136 of Claudine by 012 663 2211.

Back to top button