Gemeenskap vou engelvlerke om CMR Lydenburg

Maatskaplike werkers dankbaar vir verbeteringe aan die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se kantore.

Die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in Lydenburg is met groot sorg opgeknap. Die nuut oorgeverfde gebou asook die speelterapiekamer wat ingerig is, is op 6 September voltooi.

Jana Labuschagne, ’n gr. 11-leerder van Hoërskool Lydenburg, het die kantore besoek om uit te vind watter tipe hulp die maatskaplike werkers benodig. Dit was deel van haar gemeenskapsprojek as finalis in die Face of LHS (Hoërskool Lydenburg).

Met behulp van borge wat ruim skenkings gemaak het, is die gebou binne en buite geverf , die matte is industrieël skoongemaak, nuwe gordyne en blinders is aangebring, nuwe naamborde en rakke is ook geïnstalleer.

 

Die nuwe speelterapiekamer.

Vir die speelterapiekamer is skryfbehoeftes en speelgoed aangekoop. Boonop is daar koffie, suiker, warm sjokolade en koeldrank aangeskaf vir die personeel en kinders wat van die geriewe gebruik maak. Die maatskaplike werkers is ook van brandstofgeld voorsien.

Sebenzile van Rooi, Siphumelele Tshabalala en Londiwe Radebe, die maatskaplike werkers bedank die borge en span wat vir hulle hierdie reusetaak verrig het.

Jana Labuschagne.

“Die welstand en beskerming van kinders en gesinne is een van die CMR se primêre doelwitte maar kinders is ons almal se verantwoordelikheid. Ons moet saamspan om hulle te koester en te beskerm. Ondersteun hierdie organisasie deur kontantskenkings of skenkings van nie-bederfbare kosprodukte te maak. Dankie aan al die borge wat dit moontlik gemaak het om hierdie groot projek te voltooi,” het Labuschagne gesê.

Kontak die CMR Lydenburg om by die organisasie betrokke te raak deur 076 508 3481 te skakel of stuur ’n e-pos na cmrlydenburg01@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version