Laeveldse tiener en haar fiets maak naam vir hulself

Die jong Megan Botha het nie net die laaste resies in die Dust Buster-reeks gewen nie, maar ook die SA Baanfietskampioenskappe vroeër vanjaar.

Tydens die laaste ronde van die Dust Buster-bergfietsreeks op Sondag 3 September, het die jong Megan Botha (16) weer eens gewys waarom sy as een van die bestes in die Laeveld beskou kan word, nie net op haar padfiets nie, maar ook haar bergfiets.

Dié tienerdogter het aan die 55 km-resies deelgeneem en het nie net eerste in haar ouderdomskategorie geëindig nie, maar het ook stof in die oë van al die ander vroulike deelnemers geskop. Sy het die resies met ’n uitstekende 02:04:24 voltooi, ’n volle 20 minute vinniger as die tweede vinnigste vrou.

LEES OOK: Mozambican woman targeted by hijackers in Mbombela

“Dit is altyd lekker om te wen en te weet al jou harde werk was nie verniet nie. Ek is dankbaar vir die meer ervare ryers en leer elke rit iets by hulle,” het Megan ná die tyd gesê.

Met hierdie pragtige wen het sy dit ook reggekry om as die algemene vroulike wenner vir die reeks in dié afstand aangewys te word.

Sy is egter geen vreemdeling op die podium nie. Vroeër vanjaar het Megan aan die SA Skole Baanfietskampioenskappe in Oos-Londen deelgeneem. Sy het eerste in die tydtoets en die padfietswedren vir die dogters o. 17 gekom, en het ook ’n tweede plek in die kriterium behaal.

LEES OOK: ‘Rhino Man’ brings Lowveld rangers’ daily battle to the world

Sy vertel dat haar tydjie by die SA’s al haar verwagtinge oortref het. “Oos-Londen sal altyd ’n spesiale plek vir my wees. Ek het vanjaar vir die eerste keer vir ’n padfietsspan gery, en om die SA’s te kon wen, was ’n droom wat waar geword het.

“Dis ’n baie groot eer om die Suid-Afrikaanse strepe op my klere te kan hê, en ek koester elke oomblik wanneer ek daarin kan ry.”

Of dit nou ’n bergfiets,’n padfiets of ’n baanfiets is, Megan is gemaak om aan te hou trap.

’n Tevrede Megan na haar laaste resies in die Dust Buster-reeks. > Foto: Verskaf
Exit mobile version