Ehlanzeni deel pak slae uit aan Nkangala op Barberton

Dié twee spanne het meegeding om die Amateurbeker, wat Ehlanzeni oortuigend gewen het.

Die spanne van Ehlanzeni Laeveld en Nkangala Hoëveld het Saterdag, 26 Augustus, uitstekende rugby met geen tekort aan vermaak tydens hulle kragmeting op Coronation Park in Barberton gelewer.

Dié twee spanne het sake, tesame met Gert Sibande Hoëveld, as deel van die Mpumalanga Rugbyunie se Streeksbeker uitgespook. Hulle het vir die Amateurbeker meegeding.

Moet egter nie dat dié naam jou flous nie; hierdie tweestryd is beslis ver van amateuragtig!

LEES OOK: Bulletjierugby op sy heel beste by Nelspruit Rugbyklub

Reeds van die eerste fluitjie af was dit die span van Ehlanzeni wat die oorhand in alle fasette van die spel gehad het: hulle voorry het in die skrums gedomineer en die agterlyn was puik onder die hoë bal.

Dit het geblyk of die guns in Ehlanzeni se kant was, met ‘n paar vinnige drieë en akkurate skoppe wat die puntebord met gemak laat oorslaan het.

Teen rustyd was die telling reeds 28-0 in die tuisspan se guns.

LEES OOK: Runners take the scenic route through the Halls Estate’s orchards

Nkangala het met nuwe moed die tweede helfte binnegegaan, maar kon nie hul teenstanders stuit nie. Hulle het goeie meters tot in Ehlanzeni se gebied gemaak, maar dit was tevergeefs. Verspeelde geleenthede en uitstekende verdediging deur hul opponente het hulle die wedstryd gekos na die volle 80 minute verby is.

Met ‘n oortuigende telling van 40-0 het Ehlanzeni Laeveld die wedstryd beklink.

Dié span het in hulle vorige rondomtaliewedstryd Gert Sibande Hoëveld ook geklop, en weens Saterdag se oorwinning kon hulle met breë glimlagte die Amateurbeker omhoog lig.

Exit mobile version