‘n Oupa, pa en SANParke-kollega duisend word onthou ná seekoei-aanval

As werknemer en kollega sal Kobus de Wet altyd vir sy toewyding aan SANParke onthou word. Onder sy familie was hy 'n geliefde man, pa en oupa.

“Ons het hom altyd Kosie genoem. Selfs die kleinkinders. Dit was nooit uit disrespek nie, maar uit liefde. Dit het hy geweet.”

Dit is wie Kobus de Wet vir sy kinders en kleinkinders was, sê Leneldi van Jaarsveld, sy dogter.

Die nuus van sy afsterwe het op Saterdag 12 Augustus gekom, ná hy deur ‘n seekoei in die Nasionale Krugerwildtuin aangeval is. Hy het langs ‘n deel van die Sabierivier gekampeer wat uitsluitlik vir SANParke se werknemers is.

Alle huldeblyke wat vir De Wet instroom, getuig van sy absolute toewyding in sy professionele en persoonlike lewe.

“Enigiemand kon op sy knoppie druk vir hulp. Ek kan nie aan ‘n keer dink wat hy nie bereid was om te help nie. Vir hom was dit altyd alles of niks. Hy het niks halfhartig of halfpad gedoen nie,” sê Van Jaarsveld.

Dit het natuurlik tot by sy kleinkinders gestrek, wat vir hom absoluut alles was. “Hy het hulle ‘Bokkeman’, ‘Generaaltjie’ en ‘Spokie’ genoem. Hy was ‘n oupa duisend. Hy het soveel liefde vir hulle gehad en so baie met hulle gespeel.”

Oupa saam met sy twee kleinseuns, Christiaan de Wet en Wic van Jaarsveld. Hulle het tjieng-tjong-tja met meel gespeel.

Soos sy kollegas en vriende ook kan getuig, sê Van Jaarsveld haar pa se werk was nie vir hom ‘n bron van inkomste nie, maar ‘n roeping. “Hy wou ‘n verskil maak, elke dag. Hy het elke dag geleef om iets in iemand se lewe te beteken.”

Leneldi, Jaco en Wic van Jaarsveld en Almarie, Christiaan, Talita, JI en Kobus de Wet tydens ‘n familievakansie.

Sy skoonfamilie het net soveel liefde vir hom gehad. “Om te weet hoeveel diere se lewens jy gered het en die passie wat jy vir die natuur, veral die wildtuin, gehad het, maak ons hartseer so ‘n klein bietjie beter. Dit ruk ‘n mens as iemand soos Kobus van ons weggeneem word. Ons gaan jou mis, Swaer Koos. So lekker saam met jou gekuier en in jou liefde vir mens en dier gedeel. Rus sag,” sê Sakkie en Cecily du Toit en hul dogters.

Kobus de Wet.

‘n Oudkollega van De Wet, Oubaas Coetzer, sê hulle twee ken mekaar al vir baie jare. “Ons was beide in die SAPD. Ek was by Skukuza gestasioneer toe Kobus daar by die Nasionale Parkeraad se Omgewingsbewaringseenheid begin werk het. Ons het saam verskeie misdaadtonele besoek waar renosters onwettig gestroop is.

LEES OOK: SANParks senior manager killed by hippo in Kruger National Park

“Ek sal Kobus onthou dat hy uit sy pad uit gegaan het om veldwagters wat by skietvoorvalle en/of ander traumatiese gebeure betrokke was, bygestaan het om hulle belange te beskerm. Hy het ook ‘n reusebydrae gemaak tot die beskerming van bedreigde spesies en die misdade daarom.”

Oupa Kobus de Wet en Wic van Jaarsveld (‘Bokkeman’) tydens hulle laaste gesinsvakansie by die see. Bobby was Oupa se geliefde hond.

Die afgetrede maj.genl. Johan Jooste het ook net lof vir De Wet. “Kobus de Wet was professioneel. Hy was toegewyd en ‘n spanspeler. Hy het ‘n reusebydrae gemaak tot die bevegting van omgewingsmisdaad. Sy bydrae sal gemis word, maar sy nalatenskap sal geëer word en voortgesit word, omdat hy ‘n leier was wat baie gewild onder sy mense was.

“Beste wense vir sy vrou, gesin en naasbestaandes. Ons salueer hom.”

LEES OOK: Moenie die eerste Innibos Boekenaweek op Kaapsehoop misloop nie

Reynold Thakhuli, SANParke se mediabestuurder, het De Wet as ‘n ongelooflike man beskryf, toegewyd aan sy beroep van omgewingsmisdade ondersoek. “Hy was een van die baanbrekers wanneer dit kom by verandering en nuwe innovering. Hy het in betekenisvolle vennootskappe in die bevegting van wildsmisdade geglo. Ons is almal hewig ontsteld deur sy afsterwe, en ek wil graag my medelye aan sy familie, vriende en SANParke-familie stuur.”

De Wet laat sy vrou, Almarie, sy kinders JI en Leneldi, asook hul eggenote en kleinkinders agter.

Kobus en sy kleinkind, Leah (‘Spokie’).

Sy roudiens word Vrydag 18 Augustus om 13:00 in die NG Kerk Oosterlig, Pretoria, gehou.

Exit mobile version