Erik Vermaak se sagte suiwer siel nou rustig

Vriende en familie van Erik Vermaak onthou hom vir sy liefde en omgeehart en vertel dat sy skielike dood ’n groot leemte los.

Erik Vermaak sal in sy geliefdes se lewens onthou word vir verskillende redes, hetsy as beskermer, vir sy groot hart, of bloot sy passie vir die dinge waarvoor hy lief was.

Vermaak is op 22 Julie as vermis aangemeld. Na dáe se gesoek deur familie, vriende en die gemeenskap, is hy naby sy gunstelinguitkykpunt buite Barberton gevind, waar hy in ’n motorongeluk dood is.

Weens die terrein by die Eureka-uitkykpunt waar sy voertuig teen ’n afgrond af is, is ’n grootskaalse operasie wat etlike ure geneem het, geloods om beide sy liggaam en voertuig weer tot bo te kry. Die familie het hul hartlike dank teenoor al die rolspelers betuig wat by dié proses betrokke was.

LEES OOK: Man shot in Mbombela CBD

Vermaak laat ’n groot leemte in sy familie en vriende se lewens – hul huldeblyke getuig daarvan.

Soos vir enige man om sy broer te moet groet, weet Robert Vermaak nie mooi hoe nie. “Ek weet net jy het ’n groot gat in ons lewens gelos, wat nie maklik weer vol gaan word nie. Ons almal gaan jou vir verskillende redes mis. Ek wens jy kon ’n bietjie meer tyd saam met ons gehad het en jou kleinniggie ook leer ken het.

“Nou kan jy en Outoppie saam wees en mekaar uit die moelikheid probeer hou, of saam stout wees.

“Mis jou al klaar. Lief vir jou en soet wees. Baai, Boet.”

Onder sy neefs en niggies was hy baie geliefd.

A cousin a day keeps the boredom away en Erik het beslis seker gemaak dat hy ons op ons tone hou, altyd,” sê nig Lizaan Venter.

LEES OOK: Mbombela-vrou waarsku oor bloekomolie ná man in hospitaal beland

“Jy’t my na my eerste metal festival in daai ou blou kar van jou gevat, en toe ek weer sien, was jy in daai mosh pit, living your best life, maar jy het steeds seker gemaak ek’s veilig.

“Ons het saam gaan koffie drink, koffie by die liters, by Pappa’s, Vrydag ná Vrydag, waar jy my geleer het van die goeie golden oldie -musiek. Ek sal nooit die teleurstelling op jou gesig vergeet wanneer ek sê: ’Nee, ek ken nie dié band of daai liedjie nie.’ Dan begin jy maar van voor af, met baie geduld.

“En dan nie eers om te praat van jou rotte nie – ’n groot man met ’n sagte hart vir diere.

“Dankie dat jy daar vir jou ma in die slegte en goeie tye was. Dankie dat jy daar vir ons Venters was. Rus sag, ou grote, jou plek is leeg. Liefde, Zaan.”

Vir Jayel Jardim en sy familie was Vermaak ’n vriend, maar ook soveel meer. “Ja, hy was my brother from another mother. Hy was nie die broer wat ek deur bloed gekry het nie, maar die broer wat ek gekies het.
“Ek het hom gekies omdat hy so spesiaal was. Hy het so baie liefde en wysheid gehad om te gee as ’n mens net die tyd geneem het om te luister. En hy sou altyd empatie hê en jou nie oordeel nie.

LEES OOK: Women and ‘men’ to fly-fish for Cansa in Gunyatoo Fly-fishing Classic

“Erik Vermaak het ’n suiwer siel wat so min gesien word.

“Dankie dat jy altyd bereid was om ons in ons tye van nood te help en partykeer te voorskyn gekom het asof ons Hemelse Vader jou gekies en jou gestuur het. Ons het jou lief en sal jou nooit vergeet nie.”

Ronel Rei, een van sy vriendinne, onthou nog die dag toe hulle ontmoet het. “Dude, die eerste keer toe ons ontmoet het was by ’n Piksteel-konsert (jy het ’n bob gehad). Ek het jou nog gevra hoekom jou oë so donker was, toe sê jy dit is omdat jy nie baie slaap nie. Ek sal dit nóóit vergeet nie.

“Ek het jou en jou quirkiness leer liefhê, en jou liefde vir musiek was so cool. Dit was partykeer vreemd, want van die musiek waarvan jy gehou het, het so… nie soos jy gelyk nie.

LEES OOK: Elke stofwolk en modderspatsel die moeite werd by Wildevy 4×4 buite Burgersfort

“Jou manier van lag, die manier hoe jy geloop het, die manier hoe jy ’n sigaret aangesteek het, jou wit trui waaroor jy mál was, ons kuiers, jou gunsteling-Ramones-koppie, drie lepels koffie en eventually net een suiker, jou pragtige rotte wat ook vir ons kom kuier het…

“Jy was en ís een van my heel gunstelingmense! Nie almal het jou verstaan nie, maar ek het. Ek sal jou nooit vergeet nie; my hart is so verskriklik seer, dude.

“Ek is lief vir jou. Dankie dat jy deel van my lewe was. Mag jou pragtige hart en sagte siel in vrede rus.”

 

Exit mobile version