Mbombela-vrou waarsku oor bloekomolie ná man in hospitaal beland

'n Man van Mbombela het in die hospitaal beland na hy per ongeluk bloekomolie (eucalyptus) ingeneem het.

Bloekomolie, ofte wel eucalyptus, soos talle verbruikers dit ken, kan jou in die hospitaal laat beland.

Só het ‘n man op 19 Julie uitgevind toe hy per ongeluk van die olie ingeneem en in Nelspruit Mediclinic beland het.

Die man, wat verkies om anoniem te bly, kan min van die voorval onthou. Sy vrou het die gebeure met Laevelder gedeel.

Sy sê dit is vir haar skokkend hoe min mense, hulself inkluis, van die gevare van dié olie weet.

Dit het vroeg daardie oggend in hulle huis gebeur. “My man het gaan stort en ek het geslaap. Hy vra toe waar die medisyne is wat ek die vorige nag vir hom gegee het.”

Sy stuur hom toe medisynekas toe en maak seker dat hy die lig aanskakel. Die bloekomoliebotteltjie en die Echinaforce het langs mekaar gestaan, en hy het per ongeluk die verkeerde een gevat.

“Soos een wat nie wil wag vir druppels om uit te val nie maak, skud hy die bottel en kry alles in two shakes in sy mond. Dit het dadelik sy asem weggeslaan en hy het histeries gehoes – en al wat ek ruik is die sterk reuk van bloekomolie.”

Haar man het probeer spoeg en sy mond spoel, maar dit was te laat. “Ek het dadelik begin google en die gevare raakgelees. Ek het die poison hotline gebel, waar ’n dokter my ’n klomp vrae gevra het. My man wou niks van ’n hospitaal weet nie, en het gedink hy het die meeste uitgekry.”

LEES OOK: Seldsame siekte kniehalter dié Mbombela-vrou nie

Die dokter het gesê sy moet hom dophou. Sy het ’n uur lank wakker gelê en hom elke 15 minute gevra om met haar te praat.

“Hy het fine geklink. Ek het net voor 04:00 weer wakker geword toe hy begin ruk en hoes sonder ophou. Ek het opgespring en die lig aangeskakel om te sien wat aangaan. Ek het hom regop gekry, maar sy gehoes het nie minder geword nie. Hy het vinnig kleur in sy gesig verloor en sy lippe het al hoe blouer geword.

“En hy hoes steeds, maar so vinnig dat hy nie tussenin asem kan haal nie. Die spoeg het by sy mond uitgeborrel.”

Sy vrou hardloop toe vir ’n klein suurstofbotteltjie, voor sy haar ouers om hulp bel. Sy het hom probeer platlê om CPR te doen, maar sê hy was so styf, sy kon hom nie beweeg nie.

“Toe ek histeries uithol, nog op die foon, en my kinders huil, toe staan my man skielik in die gang en sê ons moet kalmeer. Hy het direk daarna aanhou hoes, maar sy kleur begin terugkry. Ek het gedink hy is by sy bewussyn toe ek vir hom sê ons moet nou hospitaal toe jaag.”

LEES OOK: Die Witrivier-gemeenskap vier Piet Skead se lewe

Haar ouers het ’n paar minute ná haar oproep by hul huis opgedaag en hulle hospitaal toe geneem. Dit was omtrent twee en ’n half uur ná hy die druppels ingekry het.

By die hospitaal aangekom, sê sy het hulle haar man op drie drups met medikasie vir die dag gesit en hom in die waakeenheid vir waarneming gehou. Die dokter het hom laatmiddag besoek en gesê alles lyk 100%, maar dat hulle hom steeds oornag wou hou.

“Eers ná ons daar aangekom het, besef ek hy weet van niks wat gebeur het nie.

“Hy was nie eens seker hoe ons daar gekom het nie.”

Alhoewel dit skynbaar nie baie gebeur nie, sê die vrou sy het ná haar man se voorval van nog twee ander soortgelyke insidente gehoor.

Sy hoop om ander mense ook net van die gevare bewus te maak. “As ’n mens net geweet het hoe gevaarlik dit is, was die goed nooit in my medisynekas nie,” sê sy.

Exit mobile version