Local newsNews

Man steeds in Mediclinic Nelspruit met koeël teen nekwerwel

Jozua Joubert, 'n bosboubestuurder, is op 14 Junie in 'n plantasie tussen Witrivier en Sabie aangeval en beroof. Hy is tans in die hospitaal.

‘n Bosboubestuurder, Jozua Joubert (27), is tans in Mediclinic Nelspruit na rowers in ‘n plantasie tussen Witrivier en Sabie op hom toegeslaan het.
Die insident het om en by 05:20 op 14 Junie gebeur. Sy ma, Amelia, vertel hoe dit afgespeel het.
Jozua het kragsae agter op sy bakkie gehad wat hy na werkers in die bos moes neem. Hy was reeds ‘n ent op die grondpad in die plantasie af toe hy op ‘n gedeelte kom waar daar boomstompe in die pad gelê het.

 

“Uit ondervinding uit het hy onmiddellik geweet daar is ‘n probleem,” sê Amelia. “Hy het onmiddellik die bakkie in trurat gesit en begin agteruit ry. Op daardie selfde oomblik het vier ouens uit die bosse uitgespring, en een ou het ‘n skoot afgetrek wat in die voertuig in gegaan het, maar dit het nie vir Jozua geraak nie.”
Sy vertel met die agteruitryery was daar ‘n ou wat aan die linkerkant van die voertuig gestaan en deur die passasierskant se venster op Jozua geskiet het.

Read more: Professa Mthethwa and Thandeka Hlatshwayo are the Lowveld’s best at 2023 Comrades Marathon

 

“Die koeël het hom in sy linkerkantste skouer getref, deur sy long, en opgegaan en weer terug, en sit tans half in sy nekarea teen sy nekwerwel vas.”
Hy het aanhou agteruitry, sê sy. Hy is deur ‘n veld en het in ‘n tipe vlei te lande gekom.
“Toe sy bakkie tot stilstand kom, het die rowers by hom uitgekom en nog by hom gekla oor hoekom hy dit gedoen het, om agteruit te ry, en hy sê toe vir hulle: ‘Ja, maar julle het my geskiet, dis hoekom ek dit gedoen het!’”
Hulle het sy selfoon en beursie gevat en ook die kragsae agterop die bakkie.

 

Sy ma sê hy het hulle mooi gevra om hom asseblief te los en net die goed te vat en te gaan.
“Wat hulle gelukkig toe gedoen het. Hy het geweet op daai stadium het hy nie ‘n keuse nie.”
Amelia sê hy moes deur geweldig baie gaan om uit die situasie te kom en weer tot by die pad te kom.
“Maar hy sê iets het hom net gedryf en gesê hy moet uit die bakkie uit en op die pad uitkom.”
Hy was in geweldige pyn, maar het by die teerpad uitgekom waar ‘n kollega hom gekry het en hospitaal toe geneem het.
Hy is na Kiaat Hospitaal geneem en gestabiliseer, en toe deur Emer-G-Med-nooddienste na Mediclinic geneem. Amelia sê hulle het ongelooflike diens by Emer-G-Med se Martin Jeffrey en sy span ontvang. “Hulle het ongelooflik gehelp om Jozua van Kiaat af Mediclinic toe te skuif.”
Sy gesondheid hou hulle tans fyn dop.

Read more:Man pulled from burning vehicle on R40

 

“So, sy linkerkantste skouer is half geperish, want die koeël is daar deur, deur ‘n long, teen ‘n rib vas en weer op gericochet.”
Sy sê hy is in die intensiewesorgeenheid en die volgende tydperk gaan kritiek wees.
“Hulle wil eers hê hy moet bietjie stabiliseer voor hulle enige verder besluite maak.”
Daar is ‘n kans dat hy na Netcare Milpark Hospitaal toe geneem gaan word, maar daardie besluit sal eers later van tyd geneem word.
“Dis almal se gebede en ondersteuning wat help om ons almal hierdeur te dra. Jozua is by sy volle positiewe, hy praat met ons.”
‘n Provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, het die insident bevestig en gesê ‘n saak van gewapende roof word ondersoek, asook ‘n klag van poging tot moord.

Die polisie het twee patrone op die toneel gekry. Mdhluli sê daar is ses kragsae ter waarde van ongeveer R10 000 elk gesteel.

Back to top button