Mirakel is pure kuns by Innibos

Die toneelstuk 'Mirakel' het vol sale by die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) getrek, en staan onder spelleiding deur Marthinus Basson.

Van die top Afrikaanse akteurs is in die toneelstuk Mirakel te sien, wat tydens Innibos op die planke sal wees.

Dié klassieke drama is uit die pen van wyle Reza de Wet, en bring die ‘kuns van kuns’ opnuut na die verhoog.

Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis is in die rolverdeling, wat danksy die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief moontlik gemaak is – ‘n luukse in ‘n tyd wanneer die rieme op alle vlakke dun gesny moet word.

Dit is juis die tema van Mirakel, wat afspeel in die depressiejare van die 1930’s.

‘n Teatergeselskap onder die leiding van die befaamde akteur Dante du Pré bevind hulle op ‘n klein dorpie in die hoop om met ‘n opvoering ‘n bietjie verligting te bring en sodoende die baie leë geldkoffer weer ‘n bietjie aan te vul. Die toneelspelers het lanklaas geëet, en dit is die stinkryk Anna wat kos aandra. Met heelwat onderstrominge tussen die karakters, moet die verhongerdes ook begin kies tussen oorlewing en verraad, idealisme en realiteit.

LEES OOK: Kuns by Innibos gaan in die Liedjiebos saamsmelt

Die toneelstuk het vol sale by die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) getrek, en staan onder spelleiding deur Marthinus Basson.

Izak de Vries, resensent, skryf op Litnet só daaroor: “Daar is iets bittersoet daaraan om kuns bo rykdom te kies. Nie almal doen dit nie, en in alle eerlikheid steek De Wet se teks die draak met diegene wat hulself as verhewe beskou bo diegene wat vermaak kies bo klassieke teater. Onder Basson se leiding word die karakters so werklik dat die skyn oorneem. Ons ekonomie is tans moertoe, maar as jy ‘n paar rand kan afknyp, sou ek hierdie stuk vir teaterliefhebbers aanbeveel. Júis ómdat.”

LEES OOK: Kry jou kombers reg en geniet die Warmfees in Mbombela

Leatitia Pople, vermaarde teaterresensent, sê: “Dit voel asof jy as gehoorlid behoorlik beheks is. Die werk van Reza de Wet bly by jou spook. Mirakel laat jou gees uit die stof opstaan.”

• Mirakel vertoon by die Mbombela Stadsteater op Donderdag, 29 Junie, om 11:00; Vrydag, 30 Junie, om 18:00, en Saterdag, 1 Julie, om 10:00. Kaartjies kos R190.
• Vir die volledige Innibos-program en skakels na die kaartjieverkope, besoek innibos.co.za. Kaartjies is by Computicket te koop, asook by die Innibos-kantoor op die hoek van De Villiers- en Anneckestraat by die Sonpark-sentrum.

Exit mobile version