Local news

Seldsame verskynsel ‘n hoogtepunt vir gesin wat wildtuin besoek

Op 29 Mei het die Olckers-gesin, op 'n buitengewone stil dag in die wildtuin, 'n foto-oomblik beleef waarop hulle nie gereken het nie.

Die gesegde lui: ‘Die vere maak die voël’. In die geval was die voël se vere nie die gewone grys van ‘n kwêvoël of kenmerkende swart en wit van die Afrika-visarend nie, maar eerder pienk. Dit het beslis duidelik teen die bosveldagtergrond van die Nasionale Krugerwildtuin uitgestaan.

Henri Olckers, ‘n veearts van Noordwes en sy gesin, is jaarlikse besoekers aan die wildtuin en hulle sit gewoonlik reeds douvoordag in hul voertuig voor die hek, gereed om in te gaan.

LEES OOK: Butternuts get new life at Curro Nelspruit

Tydens ‘n wildsbesigtingsrit op 29 Mei was die Olckers-gesin reeds vanaf 05:30 reg om grootwild te gaan besigtig, maar tot hul teleurstelling het die dag teen middagete nog steeds nie iets merkwaardigs opgelewer nie.

“Ons het besluit om op die S100, naby die Satara-ruskamp te gaan ry, want ek het al baie keer op dié pad uitstekende wildbesigting gehad,” het Olckers aan Laevelder vertel.

“Ná sowat 17 km op die 20 km lange grondpad was ons moed feitlik in ons skoene.” Dis egter tóé dat hulle ‘n vreemde voël in die middel van die pad sien staan het. Na so bietjie kopkrap, het die gesin besef dit is ‘n flamink wat hulle sien.

Olckers sê hy het al van flaminke in die wildtuin gehoor, maar het nog nie self een teëgekom op een van sy besoeke nie. “Ek het verwag dat as ‘n mens wel een gaan sien, sal dit naby ‘n dam of groot pan wees, nie op ‘n grondpad in die middel van nêrens nie,” het hy gesê en bygevoeg dat die naaste dam sowat 4 km weg van hulle af was.

Volgens Duncan McKenzie, ‘n terrestriële ekoloog en seker een van die bekendste voëlkenners in die Laeveld en Suid-Afrika, is flaminke swerwers en versprei hulle hulself in reaksie op teeltoestande.

LEES OOK: NHS Eagles is die Ehlanzeni-bekerkampioene!

Alhoewel groter flaminke (soos die een gesien in die Kruger) regoor Afrika, Suid-Europa en Suidoos-Asië voorkom en broei, broei hulle net op baie min plekke in suider-Afrika, soos die Sua-pan in Botswana en Etosha-pan in Namibië,” het hy gesê. Flaminke voed normaalweg in panne, maar damme en moddervlaktes en ander watermassas is ook voldoende.

“Daar is baie panne langs die kusvlaktes in Mosambiek, en natuurlik het ons ons eie ‘Lake District’ rondom Chrissiesmeer, en dit is waarskynlik dat die meeste voëls wat in Kruger beland tussen hierdie panstelsels beweeg soos toestande verander,” het McKenzie gesê.

“Die voël wat langs die oënskynlik nie-akwatiese habitat langs die S100 naby Satara gesien is, is waarskynlik een van daardie voëls. Dit het dalk by een van die poele in die aangrensende N’wanetsi-rivier beland, maar toe tot by die pad gevlieg in reaksie op een of ander steurnis, soos om deur ‘n Afrika-visarend geteister te word.”

LEES OOK: Alleged rhino poaching kingpin nabbed again

McKenzie het ook gesê dat dié flamink heel waarskynlik nie lank daar sal bly nie, dus was dit ‘n gelukskoot wat die gesin getref het.

“Dit was vir seker ‘n eerste vir ons en definitief een van ons hoogtepunte van ons 10 dag lange wildtuinvakansie,” het Olckers gesê.

Back to top button