Oupa werk nog hard om sy weg na vroulief in Witrivier te baan

Selfs ná die aanvanklike storie oor 'n oom in Hazyview honderde kere gedeel is, het hy nog nie baie van sy handgemaakte kleiwaens en -osse verkoop nie. Dit is alles om by sy siek vrou in Witrivier te kan gaan kuier.

Oupa Hannes Künz is selfs bereid om sy huis in Hazyview te verlaat om by sy vrou Ina op Witrivier te kan wees.

Die huis is afbetaal, wat beteken daar is geen huur te betaal nie, maar vir ‘n paartjie wat al vir meer as 60 jaar bymekaar is, is hierdie afstand byna onuithoudbaar.

Ina moes noodgedwonge na ‘n sorgeenheid in Witrivier gaan ná sy ‘n beroerte gehad het. Sy ly ook aan geheueverlies.

Nou verkoop Hannes handgemaakte kleiwaens en -osse om haar verblyf en sy brandstofkostes te dek. Sy kleindogter, Elzane, help hom met die verkope.

Met haar hulp is daar ook ‘n BackaBuddy-blad, ‘Oupa kort hulp‘ gestig. Hier kan die publiek skenkings maak om die paartjie se las te verlig.

Laevelder het onlangs ‘n berig oor hom gedoen, waarop daar ‘n geweldige reaksie vanuit die gemeenskap was. Die plasing op Laevelder se Facebook-blad is meer as 900 keer gedeel. Die reaksie het egter nie baie finansiële verligting gebring nie.

Hannes onthou hoe hy jare gelede in Standerton ná hy met Ina gedans het, vir haar gesê het hy gaan vir haar kom kuier.

Luister hier hoe hy vir Elzane van sy en Ina se ontmoeting vertel:

Hannes Künz gesels oor sy vrou, Ina by Lowveld Media Team

 

“Toe sê ek eendag vir my suster, ek gaan nou vir Ina Strydom kuier, en ek gaan eendag met haar trou.” Ina het weer glo ná die einste kuier toe Hannes huis toe is, vir haar pa gesê haar man is so pas daar weg.

LEES OOK: Nellies ingesluit in provinsiale Pumas-spanne

Hy raak skoon bewoë waar hy by die Hazyview-huis vir Elzane vertel, Ina se nagrokkie in sy hande, hoe dit hom affekteer om nie meer langs sy geliefde vrou te kan gaan slaap en wakker word nie.

Sy BackaBuddy-blad staan nou op net so oor die R11 000, en hy maak nog al die pad osse en -waens. Selfs Steve Hofmeyr het ‘n perdekarstel by hom gekoop.

‘n Ossewastel kos R1 500, terwyl ‘n perdekarstel R700 is. WhatsApp vir Elzane by 074 846 9615 sou jy belangstel.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version