Familie onthou Mbombela se slaghuislegende, Rassie Strydom

Rassie Strydom se lewe is op 1 Maart herdenk. Só sal sy familie hom onthou:

Hy was ‘n man van min woorde, maar sou jou altyd met ‘n glimlag groet.

So, en op soveel ander maniere, sal Rassie Strydom, die eienaar van Elmadré Slaghuis, onthou word.

Sy familie en vriende het op 1 Maart sy lewe gevier nadat hy op 25 Februarie oorlede is.

Strydom het in Maart verlede jaar ‘n ernstige val gehad wat tot drie rugoperasies gelei het. Daar was erge komplikasies asook ‘n bakteriële infeksie wat volgens sy vrou, Marianna, nou, ‘n jaar later, sy lewe geëis het.

Maggie, Lou-Ann en Sarona saam met hulle skoonouers.

Ten spyte van sy min woorde, sê sy familie dat hy met sy lewenswyse die Vader verheerlik het. “Hy het gekies om eenvoudig te leef, met ‘n opregte, rein hart. Hy was ‘n man met ‘n hart van goud wat ‘n liefde vir sy gesin en medemens gehad het.”

LEES OOK: Krokodil slaan toe op hengelaars in Barberton

Alhoewel hy die wêreld vir sy gesin beteken het, het hy nie net diep spore in hulle lewens getrap nie, maar ook in die groter Mbombela-gemeenskap s’n.

Sy heengaan laat ‘n groot leemte, maar sy nalatenskap is ‘n rykdom vir sy vrou, drie seuns, hul vrouens en sy agt kleinkinders.

Strydom en van sy kleinkinders.

Die reaksie wat die nuus van sy afsterwe in die gemeenskap ontlok het, spreek boekdele van die man wat die Laeveld verloor het. Weer en weer het mense bevestig watter leemte hierdie reus van ‘n man gaan laat.

Rassie en Wimpie Strydom.

Sy wedloop hier op aarde is nou voltooi, en hy het die ‘Elmadré Legacy’, soos sy familie dit noem, met trots in sy seun, Wimpie, se hande agtergelaat om op voort te bou.

Hulle wens hom ‘n sagte rus by Jesus se voete toe.

Só onthou sommige lede van die gemeenskap vir Rassie Strydom:

• Riaan Lamprecht
“Besonderse man. Altyd daar as ‘n mens op sy knoppie druk vir minderbevoorregte kindertjies. Sal beslis ‘n leemte in die gemeenskap los.”

• Sabrina Braun
“Ek kan onthou toe oom Rassie se slaghuis daar was waar De Hallen nou is, so ‘n klein ou slaghuisie, en as ons biltong gekoop het, het hy altyd ekstra ingesit sonder om dit op te lui. Nou praat ek van 22 jaar gelede toe ek nog op laerskool was. Oom laat ‘n groot plekkie hier in die Laeveld oop.”

• Piet van Zyl
“Saluut, Rassie. Altyd bekommerd gewees as ek ‘n week nie die slaghuis besoek het nie, en my verwelkom as ek daar aankom, met, ‘Ek het gewonder wat ons aan jou gedoen het dat jy nie meer hier koop nie!’
My dik skaapnekskywe vir ‘n potjie altyd bekyk en dan gese, ‘Man, dit lyk nou lekker!’
Rus in vrede, Rassie. Jy was een van die Laevelders wat ‘n verskil gemaak het.”

• Lizelle Kruger
“Rassie was een van die eerste mense wat ‘n merkwaardige deel van ons lewens geword het toe ons in 2007 in Nelspruit kom nesskrop het. ‘The gentle giant’ is vir my ‘n raak beskrywing van dié groot man wat altyd vriendelik, respekvol en belangstellend was. Altyd ‘n geselsie aangeknoop. Sy liefde vir sy vrou en kinders ooglopend in oorvloed. Nooit vir ‘n oomblik gedink dat ek nie weer daai vriendelike stem gaan hoor nie… rus sag.”

 

Exit mobile version