Man dankbaar hy oorleef fietsongeluk op N4

'n 63-jarige man van Mbombela het al duisende kilometers op sy fiets afgelê, maar nog nooit 'n ongeluk van dié aard ervaar nie.

Sy het dadelik ‘n ambulans gebel en vir hom gesê, “Please don’t die.”

Só het ‘n motoris gereageer toe sy onlangs die 63-jarige Johan Prinsloo op die N4-snelweg per ongeluk van sy fiets af gery het.

Prinsloo, dankbaar dat hy leef om die storie te vertel, sê in sy 16 jaar en ongeveer 31 000 km se fietsry, is hierdie die ernstigste ongeluk waarin hy nog was. Hy sê hy was op 11 Februarie op pad terug na Mbombela in die omgewing van die Puma-vulstasie by Alkmaar, toe hy besef het hy is dors. Hy sê hy het gekyk, weer gekyk, en ‘n derde keer gekyk voor hy die pad oorgesteek het, maar toe hy homself weer kon kry, toe hy byna reeds oor is, tref ‘n kar hom.

LEES OOK: Laerskool Nelspruit stel sy eerste Wild en Waterfees uit

Dit was ‘n silwergrys motor wat hy sê heeltemal met die kleur van die teer saamgesmelt het. “Die sig was ook nie 100% met die weersomstandighede nie.”

Die motor se bestuurder het gelukkig stilgehou en hulp ontbied. Prinsloo sê dit was “absoluut ‘n ongeluk gewees” en blameer nie die bestuurder nie. “Ek dink sy het groter geskrik as ek.”

Gelukkig het hy ook die regte toerusting aangehad. “Ek het baie velle op my lyf verloor,” sê hy, maar genadiglik is niks gebreek nie. Sy skouer het ‘n groot deel van die impak gevat, so ook sy linkerheup – “en my helmet is stukkend geskuur.”

Prinsloo het geen ander verduideliking vir hierdie ongeluk nie. “Dit was net genade, dis al wat ek vir jou kan sê.”

LEES OOK: Mbombela se seniors wys Mustangs hoe dit gedoen word

Die eerste drie of vier dae daarna kon hy omtrent nie loop nie, maar in vergelyking daarmee voel hy reeds stukke beter. “Dit sal seker nog ‘n goeie ses maande wees voor ek weer op my fiets met al die beserings en goeters kan kom, maar ja, dankie tog die fiets is verseker.”

Alhoewel hy nie dié bestuurder blameer nie, sê Prinsloo hy het al in sy lewe ‘n paar close shaves op ‘n fiets gehad, sommige weens moedswillige bestuurders; maar wat hierdie een betref is hy oneindig dankbaar vir sy lewe wat gespaar is, en vir die mense wat almal ingespring en gehelp het.

Exit mobile version