Hugo Greyling se lewe by Nelspruit Rugbyklub gevier

Familie en vriende het op 9 Augustus by die klub bymekaargekom om hul geliefde Hugo se lewe te herdenk.

Talle Crusaders en familielede het hierdie week eer aan hul geliefde Hugo Greyling (40) by die Nelspruit Rugbyklub kom betoon.

Greyling is op 26 Julie oorlede nadat hy ‘n tyd lank in die hospitaal was as gevolg van ‘n motorfietsongeluk.

Sy gedenkdiens is op 9 Augustus gehou en was ‘n ware viering van sy lewe. Sommige Crusaders-lede van so ver as Johannesburg het die diens bygewoon.
Van alles wat oor sy lewe gedeel is, is een ding seker: hy het ‘n blywende indruk op elke persoon wat oor sy pad gekom het gelaat, en was ‘n steunpilaar vir sy familie en vriende.

Sy seun, Hugo jr, het die volgende woorde vir sy pa gehad:
“Dad,

“Waar begin ‘n mens? Die woorde is min maar die herinneringe is vol. Dad was altyd die een wat my aangemoedig het om aan te hou oefen, om iets van my lewe te maak. Elke rugbywedstryd wat ek speel, dra ek op aan Dad op, en elke keer wat ek op my motorfiets klim, dink ek aan my Guardian Angel wat my sal oppas. Ek mis Dad ongelooflik baie en ek is vir ewig en vir altyd lief vir Dad. Tot ons weer ontmoet, my Dad. Filippense 4:13.”
Sy dogtertjie, Mikayla sê sy mis hom ook verskriklik baie. “Die ding wat ek die meeste mis, is dadda se lekker stywe, warm drukkies waar ek altyd veilig gevoel het. Ek was en is nog steeds veilig. Lief vir dadda.”
Sy vrou, Natasja, sê daar is soveel dinge wat sy nog vir hom wou sê, soveel om hom te vertel, en soveel wat sy nog saam met hom wou doen.
“Ek wou net weer jou stoutgat-smile sien, die lagplooie om jou oë as jy lekker lag. Ek wou jou hartklop teen my lyf voel as jy my vashou, jou arms om my voel en weet ek is veilig.

“God het Sy eie tyd met jou gehad, Sy plan vir jou lewe het nie nog tyd vir ons saam in gehad nie… En dis oukei, want die tyd wat ek jou kon leen by Hom het my lewe volmaak gemaak… Jý het my lewe volmaak gemaak…

“Dankie dat jy altyd my en die kids se rots was, dat jy altyd agter ons gestaan het, dat ons enigiets kon aanvat en jy was altyd daar. Dankie dat jy ons geleer het om sterk te wees, om vir ons self op te staan, om nederig te wees, om liefde te gee…

“Jou nalatenskap sal in jou kinders en in jou boetas vir wie jy soveel onvoorwaardelike liefde gehad het, voortleef.
“Lief jou vir ewig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version