Tou opgooi is nie ‘n opsie vir dié Laeveldse inwoner nie

Louis de Preez vertel Laevelder van hoe hy die dood meer as een keer gefnuik het.

Hy het nie gedink hy gaan die aanslag oorleef nie en het menige keer by die dood omgedraai.

Maar vandag is Louis de Preez (58) meer begeesterd as ooit om die lewe voluit aan te pak en ‘n verskil te maak, nie net in sy eie lewe nie, maar ook in ander s’n. Du Preez, wat verlede jaar nog ‘n gesonde, fikse en lewenslustige man was, se lewe het ononkeerbaar verander toe hy ‘n onverwagse beroerte gehad het.

“Dit was die aakligste tyd van my lewe om skielik nie beheer oor myself te hê nie. Ek het dodelik siek in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal gelê. My gestel was so afgetakel weens septisemie en die gevolge van die beroerte, dat ek deur drogbeelde en hallusinasies geteister is,” vertel hy.

LEES OOK: AfriForum Nelspruit-tak staan Grace Baby Haven met skenking by

Alles het vir Du Preez, wat vir 20 jaar lank ‘n seniorbestuurder van opleiding by Buscor was, begin skeefloop toe hy laat verlede jaar agtergekom het hy begin al hoe swakker aan die linkerkant van sy liggaam word.

“Ek het aanvanklik ‘n klein seertjie op my regterknie gehad wat eenvoudig nie gesond wou word nie. Dit is toe dat een van die vele gesondheidskokke wat op my gewag het, my tref. Ek is as ‘n diabeet gediagnoseer.

“Die wond het vererger en ek het later ook oormatige swelling en septiese wonde aan my linkervoet gekry. Dit het my só afgetakel dat my liggaam in septiese skok gegaan het.” Hy is inderhaas in die hopitaal met ‘n hartklop van 150 slae per minuut opgeneem. Die dokters moes hom hartskokke gee om sy hartklop te stabiliseer.

Intussen het hy bo en behalwe sy gesondheidsprobleme, ook die bekommernis gehad om terug te keer werk toe. Toe hy in Januarie weer by Buscor wou inval, moes hy eers verskeie mediese verslae indien om die maatskappy te oortuig hy is wel gesond genoeg om sy dagtaak te hervat.

LEES OOK: Ruiters tem Fauresmith, modderbad en al

Sy werk was egter van korte duur, want op 3 Maart het hy weer siek geword. “Ek het gesukkel om te loop en dit was ‘n stryd om by die 18 trappe by my huis op te loop.” Die oggend van 6 Maart het sy lewe byna uitmekaargeval.

“Ek het verlam al swetend op die bed gelê en kon glad nie praat nie. Gelukkig het Riekie (my vrou) kopgehou en ‘n ambulans ontbied.” Hy is in die hospitaal opgeneem met ‘n hartklop van 206. Die dokters moes hom drie keer hartskokke gee om sy pols onder beheer te kry.

“Ek was streng gesproke dood. Want met só ‘n hartklop kan geen mens oorleef nie. Maar die Here het ‘n plan met my gehad. “Ek het dit net nie op daardie stadium besef nie. Ek het dit eers werklik besef toe ek in M-Care vir rehabilitasie opgeneem is,” het ‘n emosionele Du Preez gesê.

“Dit is daar wat ek ‘n lewensveranderende besluit moes neem: gaan ek aangaan met my lewe of tou opgooi? “Die Here het my hand gevat en deur die duisternis en verwarring getrek!”

Sy positiewe gesindheid het vir hom baie deure oopgemaak. Soveel so dat Tamsin Ballantyne, sy arbeidsterapeut, nie oor sy deursettingsvermoë uitgepraat kan raak nie. “Ten spyte van al die ontberings en gesondheidsprobleme, het hy ongelooflik met sy rehabilitasie gevorder. Hy het hard gewerk en het weer self begin loop en praat.

LEES OOK: ‘n Musikale naweek saam met Innibos by Christie’s @ 32 on Russell

“Ten spyte daarvan dat hy so baie moes verduur, bly hy een van die mees positiewe, goedhartige en opgewekte mense wat ek ken!” sê Ballantyne. Du Preez het pas aan sy boek, getiteld It was Called to Conveyed, begin skryf, waarin hy sy wedervaringe en tweestryd met die dood wil vasvang.

“Dié is ‘n roeping wat die Here op my pad geplaas het om ander mense te motiveer. En ek is Hom ewig dankbaar vir die tweede kans op lewe wat Hy vir my gegee het.” Sy gunstelingtydverdrywe is om te sing (het het 10 jaar gelede ‘n CD vrygestel), en argitektuur.

Du Preez is ook beskikbaar om motiveringspraatjies te gee. Skakel hom by 082 462 7804.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Exit mobile version