Mbombela kry nuwe traumasentrum

'n Droom om hoop te bring, het aan die begin van Mei vlerke gekry met die opening van die Beacon of Hope Trauma and Counselling Centre.

Met die wete van hoeveel mense daagliks trauma beleef, het ‘n groep privaat individue besluit dat Mbombela ‘n behoefte aan ‘n traumasentrum het.

Beacon of Hope Trauma and Counselling Centre bestaan daarom sedert Mei in Locostraat by eenheid D1 in die Zelpy-gebou.

“Wanneer ‘n mens deur trauma gaan, besef ‘n mens nie altyd die impak daarvan op ons en ander se lewens nie. Die gevolge van trauma kan ons eers jare later tref en vernietigende gevolge inhou vir die persoon, die geliefdes en verhoudings,” sê Johann Marais, een van die dryfkragte agter die sentrum.

LEES OOK: Witrivier-spotprentkunstenaar teken nou vir Die Burger

Beacon of Hope bied ‘n diens aan waar ‘n individu of groep die geleentheid gegun word ná ‘n traumatise ervaring, hetsy ‘n gewapende roof, ongeluk, verlies van ‘n geliefde, siekte, egskeiding, natuurramp, kaping en vele ander, om berading te kry. Marais sê daar word terapeuties ingegryp om die persoon te help om die trauma te verwerk.

Die openingsgeleentheid is deur verskeie mense in die gemeenskap bygewoon, onder andere verteenwoordigers van skole, kerke, rampbestuur, hospice, Lifeline, lede van die sakegemeenskap en korttermynversekeraars.

“Hierdie sentrum fokus nie net op trauma nie, maar ook op huweliksvoorligting, -verryking en berading. Huwelikseminare en kampe in groepe van omtrent agt pare word ook aangebied.

“Tydens individuele, gesins- of groepsterapie/berading word daar op die behoefte van die kliënt gefokus en hoe ons die persoon kan help. Die sentrum is ook in die proses om ‘n onderseuningsnetwerk te bied vir persone wat met verslawing sukkel.”

LEES OOK: Donate blood at Nelspruit Rugby Club

Die sentrumpersoneel bestaan tans uit ‘n maatskaplike werker en twee geregistreerde beraders.

Beacon of Hope Trauma and Counselling Centre kan by 066 530 1018 geskakel word om ‘n afspraak met een van die beraders te reël. Konsultasietariewe word gehef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version