Witrivier-spotprentkunstenaar teken nou vir Die Burger

Die Burger bestaan al 115 jaar, en in al daardie tyd het hy net drie spotprentkunstenaars gehad. Jack Swanepoel, ook bekend as Dr Jack, is nou die vierde.

Jack Swanepoel, woonagtig op Witrivier, is nou die vierde spotprentkunstenaar in die geskiedenis van Die Burger.  Swanepoel, wat onder die naam Dr Jack teken, het op Witrivier grootgeword, wat ‘n rol gespeel het in die ontwikkeling van sy talent.

“In daai jare was Witrivier bekend vir sy baie kunstenaars. Mense soos Zakkie Eloff, Sias Bosch, en my oom, Bobby Lawrence, onder andere. Dalk was daar iets in die water?  “In elk geval, my ouers het ons kinders gereeld na uitstallings toe gesleep, en dit moes ‘n invloed op my gehad het, of hoe?”

LEES OOK: Steve Biko het glo nie ‘n bed vir plaaslike vrou nie

Hy sê kuns is in sy familie se are, daarom het hy eenvoudig nie ‘n keuse gehad nie. “My oupagrootjie was ‘n bekende argitek in sy tyd, maar het ook wonderlike skilderye in sy vrye tyd gedoen. My broer, Billy, het weer my oom se talent vir beeldhou.”  Die Laeveld het tot vandag toe nog ‘n invloed op sy kuns, reken hy. “Dit is seker onvermydelik dat jou agtergrond in alles wat jy doen sal deurslaan. In my geval teken ek dalk onbewustelik mense wat ek in die Laeveld raakloop.”

Alhoewel die meeste van sy sketse elders in die land heen gaan, is hy op eie bodem betrokke by die Memorable Order of the Tin Hats (MOTH), waarvoor hy deur die jare al baie geteken het. Hy is nou al amper 25 jaar lank by dié organisasie betrokke en geniet nog elke oomblik.  “Onthou, die MOTH is gestig deur ‘n spotprentkunstenaar, Charles Evenden, so pret is deel van die MOTH se DNS.  “Ek is tans ‘n lid van Mpumalanga Bomgat (Witrivier), en ek is die samajoor vir die Laeveld-distrik.”

Jack Swanepoel en Fred Mouton. > Foto: Verskaf

Snaaks genoeg het hy nog nooit sportprente oor prominente gebeurtenisse of figure in die Laeveld geteken nie.  “Hoewel ek vreeslik trots is om myself ‘n ou Laevelder te kan noem, sit al my kliënte (onder andere Rapport, City Press, Die Burger, Farmer’s Weekly) in stede elders in die land, so ek teken meer oor nasionale gebeurtenisse en persoonlikhede.”

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit sluit seisoen se wintersport op hoogtepunt af

Waarmee hou Dr Jack homself besig wanneer hy nie spotprente teken nie?  “Op die oomblik is daar min tyd vir ander dinge. Ek is gelukkig dat ek baie werk het, en ek teken letterlik ses dae van die week.”  Wanneer hy ‘n vrye tydjie kry, draai hy graag sy rug op die land se politiek en fokus eerder op die natuur, “waar daar dalk ook ‘n soort politiek is onder die diere, wie weet?”

Karikatuur van ‘n wildehond deur Dr Jack.

Hy sê dit is ‘n reuse-eer om Die Burger se vierde spotprentkunstenaar te wees.  “Eerstens, Die Burger weet wat ‘n spotprent kan doen, en hoe om dit te benut. Bun Booyens, een van hulle vorige redakteurs, het gesê spotprente is ‘n geheime wapen wat koerante het, maar ander media nie, en hy was 100% reg.

“Die Burger bestaan al 115 jaar, en in al daardie tyd het hulle net drie spotprentkunstenaars gehad: Boonzaaier, Honiball en Fred Mouton. Laasgenoemde het meer as vyf dekades lank vir hulle gewerk.  “Fred Mouton self het gevra dat ek sy opvolger by die koerant moet wees, want ek dink hy het gereken ek sou by Die Burger se styl inpas.”

Old Bill deur Dr Jack.

Hy beskryf Mouton as verbasend nederig en ingetoë. Hulle het egter goed oor die weg gekom, en gereeld per WhatsApp oor sommer alles gekommunikeer. Mouton is ook een van sy gunsteling- plaaslike spotprentkunstenaars, hy en Len Lindeque. “Elke druppel uit hul penne was ‘n kunswerk, ‘n fees vir die oë.” Vir enige jong opkomende kunstenaars het hy die volgende woorde: “As jy jouself moet forseer om daagliks te teken, is dit dalk nie jou roeping nie. As jy daagliks sukkel om óp te hou teken, is dit ‘n goeie begin.

Jack Swanepoel.

“Anders gestel: teken, teken, teken, en leer, leer, leer. Daar is nie ‘n kortpad nie.”

Karikatuur van ‘n Land Rover deur Dr Jack.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version