Steve Biko het glo nie ‘n bed vir plaaslike vrou nie

Vir die derde agtereenvolgende week is die 71-jarige Cornelia Botha, wie se been onlangs in Rob Ferreira Hospitaal geamputeer moes word, by Steve Biko Hospitaal weggewys.

Cornelia Botha moet dringend behandeling vir ‘n bloedklont in haar linkerlies ontvang.  Botha is op 15 Mei in Rob Ferreira opgeneem nadat sy erge pyn in haar linkervoet ervaar het. Daar is destyds skanderings van haar linkerbeen gedoen, maar ten spyte daarvan dat die dokters vasgestel het dat sy ‘n bloedklont het, is sy nie daarvoor behandel nie.

Hul stilswye het uiteindelik daartoe gelei dat haar voet só verrot het dat hulle ‘n gedeelte van haar been moes amputeer.  Die hospitaal het ook gesê hulle kan haar nie vir die bilaterale perifere arteriële siekte waaraan sy ly, behandel nie, en die noodsaaklike behandeling kan net deur Steve Biko gedoen word.

“Ek is moedeloos verby. Ek is óp met die hospitaal se onmenslike behandeling wat my ma ontvang,” het Lizel Habib, Botha se dogter, vandeesweek gesê.  Botha is twee keer voorheen by Steve Biko weggewys, omdat hulle met haar aankoms vasgestel het dat hulle nie ‘n bed vir haar beskikbaar gehad het nie.

LEES OOK: Barbertonner as jong boer van die jaar aangewys

Verlede week het Dumisani Malamule, die provinsiale woordvoerder van die Departement van Gesondheid, gesê reëlings is getref om Botha die afgelope naweek oor te plaas.

“Sondag om 08:00 het ‘n ambulans my ma opgelaai om haar Steve Biko toe te neem. Toe hulle by die hek uitry, het die ambulansman ‘n oproep ontvang om te sê sy moes teruggebring word saal toe.  “Dit was weer eens Steve Biko wat op die nippertjie laat weet het hulle het nie meer ‘n bed vir my ma beskikbaar nie en die vaskulêre chirurg is ook nie beskikbaar om Maandag die operasie te doen nie!

LEES OOK: Mbombela-vrou suksesvol: Optel-Familiebybel vind sy tuiste in Boksburg

“Hulle speel met ‘n mens se gevoelens en gemoed. Ma is in so ‘n toestand, sy het so gehuil omdat sy nog langer moet wag.”  Intussen het Botha verlede week ‘n operasie in Rob Ferreira ondergaan waar die vel oor die wond van die geamputeerde been getrek is. Dit het suksesvol verloop.

Malamule het teen druktyd nog nie op vrae gereageer oor wanneer Botha uiteindelik oorgeplaas sal word nie.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version