Barbertonner as jong boer van die jaar aangewys

Org Lindeque as die provinsiale wenner van Agri SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys.

Verbaas, trots, dankbaar, ‘n groot eer, maar bowenal geseënd.  Dit is hoe Org Lindeque (37) Dinsdag gereageer het toe hy onlangs as die provinsiale wenner van Agri SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys is.

Lindeque van Anro Boerdery in die Barberton-vallei naby Kaapsehoop, het die toekenning tydens Mpumalanga Agri se jaarkongres verlede week in eManzana (Badplaas) ontvang.  “Ons was uiteindelik twee finaliste en ek het tydens die funksie verskeie keer vir my vrou gesê dat Arné Grobelaar (‘n vee- en kontantgewasboer van Amersfoort) die kompetisie gaan wen. Hy is ‘n uitmuntende boer. Jy kon my omslaan toe my naam uitgelees word. Ek het dit regtig nie
verwag nie, veral omdat die kompetisie so straf was.”

Lindeque het hom in 2005 in die Laeveld gevestig nadat hy van die Vrystaat hierheen verhuis het. Hy het toe as ‘n plaasbestuurder gewerk, waar hy verantwoordelik was vir onder meer die macadamia-, sitrus-, mango- en lietsjieboorde. In 2018 het hy by die familieboerdery betrokke geraak waar daar aanvanklik op 74 ha van die 100 ha-plaas met macadamias geboer is.

LEES OOK: Mbombela-vrou suksesvol: Optel-Familiebybel vind sy tuiste in Boksburg

“Ons het egter besef dat daar meer sukses kan wees indien ons ons eie boompies kweek. So het ons ‘n kwekery gevestig waar ons tans sowat 220 000 saailinge het. “Ons verkoop sowat 300 000 boompies per jaar aan boere regoor die republiek,” sê Lindeque. Hy glo een van die redes vir die boerdery se sukses is diversifisering.

“Ons het ‘n werkswinkel aangelê waar ons ons eie implemente herstel en in stand hou. Toe maak ons ‘n pasmaak-implement om met die boerdery te help. Nou het ons ‘n hele fabriek waar ons plaasimplemente vir boere vervaardig.”  Hulle ook hulle eie aanleg gebou waar hulle tot 300 t macadamias binne sewe dae kan droog. Hy bied tans sy dienste aan vir kleinboere wat macadamiaboorde van 10-15 ha het.

LEES OOK: Krugerwildtuin se wildehonde binnekort op die kassie te sien

Anro Boerdery verpak macadamianeute in die dop, wat uitgevoer word. Tussendeur alles lewer hy konsultasie-dienste aan veral nuwe en opkomende boere. “Vir ons gaan die hele boerdery oor integriteit, waar ons hele span, 58 werkers en vier bestuurders, saamwerk om nie net waarde tot ander boere se ondernemings toe te voeg nie, maar ook vir ons as ‘n span.”

Lindeque dring nou deur na Agri SA se nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie, waar hy teen die wenners van die agt ander provinsies se wenners gaan meeding.

“Dit is vir my genoeg en ‘n groot voorreg om net benoem te wees. Ek het geen verwagtinge om dit te wen nie. Ek geniet die boerderybedryf en dit is voldoende,” sê hy.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version