Krugerwildtuin se wildehonde binnekort op die kassie te sien

Bonné de Bod en Susan Scott het al regoor die wêreld vir hul dokumentêre programme gereis. Nou besoek hulle onder meer die Krugerwildtuin vir 'n nuwe kykNET-reeks.

Die bekroonde natuurlewe-TV-aanbieder en -vervaardiger, Bonné de Bod, en regisseur Susan Scott se nuwe natuurprogram, Bewonder & Bewaar met Bonné de Bod, vertoon vanaf Sondag 10 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Dié twee is veral bekend vir die dokumentêre films STROOP – Journey into the Rhino Horn War en Kingdoms of Fire, Ice and Fairy Tales. Beide films is by meer as 50 filmfeeste vertoon en het al verskeie plaaslike en internasionale toekennings ontvang.  De Bod en Scott het al regoor die wêreld verfilm, insluitende Afrika, Asië, Europa, die Noordpool, en Noord- en Suid-Amerika.

LEES OOK: Man doodgery op die Plaston-pad

Vir hierdie reeks het dié gedugte span die vooraanstaande wildernisgebiede van Suid-Afrika, Namibië en Argentinië op kamera vasgelê. De Bod is bekend vir haar vermoë om bewaringswetenskaplikes, wildleweveeartse en navorsers op hul gemak voor die kameras te plaas.  Regdeur die reeks bring sy die warmte en passie wat hierdie voorste wetenskaplikes vir hul navorsingsonderwerpe het, na vore. Deur hulle oë kom die kyker ook meer te wete oor die ikoniese wilde diere en ongerepte wildernisse waaraan hulle hul lewens wy.

Op haar reise na die afgeleë uithoeke van die wêreld ervaar De Bod eerstehands hoe van die planeet se mees toegewyde navorsers die geheimenisse van Moeder Aarde ontsluit, en kom sy agter hoe hierdie mense nie net met klein en groot gediertes werk nie, maar terselfdertyd hul drome nastreef met ‘n daaglikse bestaan in die natuur.

LEES OOK: Landsdiens hou skaduskof vir provinsiale oorlewingskamp

Hierdie interaksies gee ‘n dieper insig tot die menslike gees, maar dit is ook ‘n ontdekkingsreis vir De Bod soos sy haarself in hul bestaan ingrawe om uit te vind wat die hartklop is van hul baanbrekernavorsing; en of hulle werklik daardeur vervul word.

Op Suid-Afrikaanse en meer spesifiek Laeveldse grond kan die kyker daarna uitsien om kennis te maak met die staatsveearts, dr. Louis van Schalkwyk. Die Krugerwildtuin se wildehonde roer sy hartsnare. De Bod vind uit hoekom en sien die lewegewende tegnologie wat hy help ontwikkel het, in aksie.

Verder is daar poemas, bedreigde spesies, woestynleeus, fynbos, guanacos (‘n llama-agtige dier) en pikkewyne om in die reeks na uit te sien.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version