Local newsNewsNews

Rottweilers val vroue, honde in Liebenbergstraat aan

Een oomblik het 'n vrou van Mbombela haar ma nog gewaarsku daar is rottweilers los in die straat, en die volgende moes hulle keer of hul eie honde word verskeur.

‘n Rustige wandeling op ‘n Sondag in Liebenbergstraat het onlangs in ‘n nagmerrie ontaard toe ‘n vrou, haar ma en vier honde deur drie rottweilers aangeval is.

Byna twee weke later, en Chris-Elize Blom (53), wat op 24 April saam met haar ma, Retha Burger (75), gestap het, onthou steeds die skokbeeld van hoe een van dié rottweilers een van haar honde, Sandy, “soos ‘n speelding rondskud”. Sandy is later by die veearts dood.

Chris-Elize Blom.

In ‘n verbete poging om hulle hondekinders te red, het albei beserings aan hulle hande opgedoen.  Blom en Burger woon in Sheppardrylaan en stap bykans daagliks met hul honde, Sandy, Geronimo, Duffy en Rocket, in dié buurt.

“Ek sê nog vir my ma, ‘Mamma, kom! Kyk, daar is honde los in die straat!’ toe is dit te laat.”

Sandy.

LEES OOK: So lyk André se inskrywingsfoto’s vir die Boerboel Bene Kompetisie

Toe sy weer sien, is haar ma plat op die teerpad besig om Geronimo (‘n Jack Russell) van die grootste rottweiler te probeer red. Blom het vir Rocket (‘n chihuahua) onder haar een arm gehad en aan haar ander kant vir Duffy (‘n Ierse terriër) probeer help. Sy het met haar vry hand probeer om vir Sandy (deels Maltese poedel) uit een van die rottweilers se bekke te probeer kry.

Juis tóé het daar gelukkig ‘n ander vrou en haar dogter tot hul redding gekom.  Dié twee het vir Burger gehelp. Daar was ook mans met ‘n motor naby. Hulle het vir Blom gehelp om vir Sandy in die motor te laai, bebloed en al. Dis tóé eers dat die rottweilers weggehardloop het.

Retha Burger se hand.

“Ek het Rocket vir die vrou gegee en Sandy uit die kar getel, maar het gesien daar is ‘n gat in haar sy en een van haar ribbes steek uit.”
Van daar is hulle met die honde veearts toe en is self ook hospitaal toe.

Die veearts het hulle die volgende dag laat weet dat Sandy weens vier gebreekte ribbes wat in haar long gesteek het, nie haar operasie oorleef het nie. Geronimo het ‘n besering gehad, maar het beter daarvan afgekom. Die ander twee honde is ongedeerd.

LEES OOK: Boom van 132 jaar afgekap

Blom se hand het ‘n diep oop wond gehad, maar dit is van so ‘n aard dat dit nie steke kan kry nie. Sy moet nou elke dag na ‘n kliniek gaan sodat die wond skoongemaak kan word.

Chris-Elize Blom se hand.

Haar ma se wond het steke gekry wat na ‘n week weer verwyder is.  Sy vertel dat daar soms kinders wat ook op hulle erf bly, saam met hulle in die middae gaan stap. Gelukkig was hulle nie daardie dag saam nie.

“Dis hoe die Here ‘n mens maar oppas. Ons doen dit want die kinders geniet dit, die honde geniet dit, ons geniet dit; en dit is vir ons fiksheid.”

Chris-Elize Blom se hand.

Sy sê hulle wil nie mense se simpatie hê nie, maar eerder hulle empatie. “Mense dink nie altyd dis ‘n groot ding nie, maar vir ons is dit. En dis nie reg nie; as jy ‘n honde-eienaar is, moet jy verantwoordelik wees. Nelspruit het nie rêrig parke waar ons kan loop nie, so ons loop maar in die buurt waar dit veronderstel is om veilig te wees.”

Hulle het reeds die saak by die polisie gaan aanmeld en wag nou vir terugvoer.

Back to top button