Local newsNews

Hoërskool Lydenburg se hoof neem sy eerste jaar in oënskou

Dis nou bykans ’n jaar sedert Michael van der Merwe as skoolhoof die leisels by Hoërskool Lydenburg (LHS) oorgeneem het.

Steelburger/Lydenburg Nuus het by hom gaan koffie drink om verskeie aspekte van die skool te bespreek, en die trofees te bewonder wat die Mpumalanga Departement van Onderwys aan die skool toegeken het vir die uitmuntende 2021-matriekuitslae.

Steelburger/Lydenburg Nuus (SLN): Is julle tevrede met die skool se matriekuitslae van 2021?

Michael van der Merwe (MvdM): LHS is as die beste dubbelmedium skool in Mpumalanga aangewys, wat meer as 160 matrikulante ingeskryf het. Dit plaas ons in die boonste 4% van alle skole in Mpumalanga. Leerders kry blootstelling aan onderrig in Afrikaans sowel as Engels, wat hulle ’n enorme voorsprong vir tersiêre studies gee. Een kandidaat met agt onderskeidings en drie kandidate met sewe onderskeidings, is nóg ‘n teken dat my personeel se gehalteonderrig uit die boonste rakke is.

Martie Smuts, beste toerismeonderwyser in die distrik, met 16 onderskeidings.

SLN: Hoe lyk julle leerdergetalle vir 2022, met verwysing na die gr. 8-leerders?

MvdM: Dit is nou vir jou ’n ware teken van die skool se vooruitgang. Die skool het 280 graadagts ingeneem. Ons het uitgebrei met een vol Afrikaanse klas en een Engelse klas. SLN: Wat is jou planne vir Hoërskool Lydenburg oor die volgende paar jaar? MvdM: Die beheerliggaam en bestuurspan van die skool het in September ’n strategiese vyfjaarplan geskryf. Die plan ontvou reeds. Daar is definitief geen beter tyd vir ouers as nou om in hulle kinders se toekoms te belê by LHS nie. Die skool toon ’n opwaartse groeikurwe.

SLN: Aan watter buitemuurse aktiwiteite en ander interessante klubs kan die leerders deelneem?

MvdM: Met diverse aktiwiteite en geleenthede wil ons die leerders aan die beste blootstel, en aktiwiteite aanbied waarin elke kind kan uitblink. Buiten die tradisionele buitemuurs, spog ons onder andere met ’n robotikaklub, boogskietklub, landsdiens, Readers are Leaders (nauurse leesprogram), dagkoshuis vir leerders wie se ouers lang ure werk en ’n landbouklub. Die koor, LHS-note, het ook afgeskop. Die skool bied AdMaths (toegepaste wiskunde) aan as addisionele vak en is ook in samewerking met die South African Literacy Association. Kinders word aangemoedig om aan ten minste twee aktiwiteite per jaar deel te neem.

SLN: Met watter uitbreidings en aanbouings aan die skool se fasiliteite is julle tans besig?

MvdM: Eerstens kan ons nie genoeg uitgepraat raak oor die Astro-bane nie. Dit is LHS en Laerskool Lydenburg se suksesverhaal. Die bouwerke by die Astro-baan se openbare badkamers, vier kleedkamers met storte, ‘n kantoor vir die Astro-bestuurder en snoepwinkel met aparte onderdak-eetarea is in aanvang. Die seunskoshuis, De Souzahuis, word opgegradeer. Ons koshuisleerders is van onskatbare waarde. Dan is daar ook die vier nuwe netbalbane waarop die netbalspelers selfs buite seisoen kan speel! Daar is tot ’n Sugar and Spice-kafeteria vir iets lekkers.

Anel Plessers, beste wiskundegeletterdheidonderwyser in die distrik, met 12 onderskeidings.

 

SLN: Wat is van die ander planne vir 2022? MvdM: Leerderveiligheid en -sekuriteit. Die stoepe en terrein gaan met meer as 30 kameras beveilig word. Daar word ook voortdurend draadheinings met palissades vervang. Die installering van kaartbeheerde draaihekke vir koshuisleerders, wat veiligheid en sekuriteit gaan verseker, is iets waaroor ons baie opgewonde is. SLN: Volgens jou, wat is ’n bepalende faktor in die langtermynsukses van die skool?

MvdM: Die skool poog vir gesonde werks- en menslike verhoudinge tussen leerders, ouers, kollegas, sakeondernemings, die gemeenskap en omliggende skole. As dit goed gaan met die skole, gaan dit goed met die gemeenskap.

Back to top button