Man sterk aan ná ontberings in hospitaal

Jan Barnard (42) gesels so nadat hy onlangs deur 'n mediese krisis gegaan het toe 'n noodoperasie by Rob Ferreira Hospitaal skeefgeloop het.

“Dankie vir die Groot Baas. As dit nie vir Sy beskermde hand was nie, sou ek nie hierdeur kon kom nie!”
So gesels Jan Barnard (42) nadat hy onlangs deur ‘n mediese krisis gegaan het toe ‘n noodoperasie by Rob Ferreira Hospitaal skeefgeloop het.

Barnard is sowat drie weke gelede deur sy privaat dokter na Rob Ferreira verwys toe hy van erge buikpyn gekla het.

Sy dokter was van mening dat sy blindederm die pyn veroorsaak het.

LEES OOK: Mjejane begin ryke geskiedenis uitbeeld

Nadat hy in die hospitaal opgeneem is, het die medici besluit hy moes ‘n noodoperasie ondergaan om sy blindederm te verwyder.

Hy is die oggend van 21 Januarie geopereer. Toe Barnard later van sy narkose wakker word, het hy gesien daar was twee lang snywonde, elk sowat 15 cm lank, op sy maag.

Die chirurge het hom ingelig hulle kon aanvanklik nie sy blindederm opspoor nie. Hulle het toe sy ingewande uit die buikholte gehaal om na die orgaan te soek.

“Vir my is gesê hulle het dit gekry en verwyder. Ek het gevra of my blindederm gebars het. Hulle het dit ontken,” sê Barnard.

LEES OOK: ‘n Fees van trofees vir Laerskool Nelspruit

Die dag na sy ontslag, het sy vrou Melanie gemerk sy buik is geswel. Teen die Maandag was hy in sulke erge pyn dat hy na die Kiaat Hospitaal geneem is, waar hulle nóg ‘n noodoperasie gedoen het.

Daar is toe vasgestel dat sy blindederm reeds ‘n paar dae voor sy opname by die staatshospitaal gebars het. Die medici by Rob Ferreira het dit nie opgemerk nie.

As gevolg van die besmetting in sy buik, het hy erge septisemie ontwikkel. Sy hele buik moes uitgewas word.

Die dokters het besluit om nie op daardie stadium die twee gapende wonde toe te werk nie, want hulle wou wag totdat die infeksie opgeklaar het.

Beide wonde is vroeg in Febrarie vasgeheg.  “Ek is steeds baie seer en die moegheid wil my nie los nie,” het Barnard onlangs gesê. “Maar ons is dankbaar dat dit beter gaan. Die steke word op 4 Maart uitgehaal.”

LEES OOK: Steve Hofmeyr sing dorpie aan die brand

“Ons wil dankie sê vir almal se ondersteuning in hierdie moeilike tyd. Ons het nie ‘n mediese fonds nie en het wonderlike ondersteuning in hierdie verband van só baie ontvang,” sê Melanie. “Ons het nou besef daar is nog baie mense met baie goeie harte.”

Barnard, wat ‘n motorwerkwinkel besit, gaan elke oggend in net om te verseker sake verloop vlot. “Ek het baie betroubare personeel op wie ek kan staatmaak,” sê hy.

Die Mpumalanga Departement van Gesondheid het teen ter perse gaan steeds nie op vroeëre vrae gereageer nie.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version