Local newsNewsNews

Skukuza-aap byt vrou

Lucia de Beer is na dié aapbyt met 'n klem-in-die-kaakinspuiting asook twee tipes antibiotika by Skukuza weg.

Een oomblik mik sy nog om ‘n foto van die treinhotel in die Krugerwildtuin te neem en die volgende slaan ‘n blouaap sy tande in haar kuit.

So vertel Lucia de Beer (61), ‘n pensioenaris van Mbombela, oor haar ervaring op 8 Januarie by die Skukuza-piekniekarea.

De Beer en haar gesin het die wildtuin slegs vir die dag besoek en besluit om by dié piekniekplek iets te gaan eet.

Lucia de Beer se been ongeveer drie weke nadat sy deur die aap gebyt is.

Daar aangekom het hulle eers tee gedrink, maar teen die kos besluit nadat hulle gesien het hoe baie ape daar in die omtrek was.

Hulle het besluit om eerder elders hul ete te gaan geniet, maar De Beer wou net eers ‘n foto neem voor hulle vertrek.

Tydens haar onderhoud met Laevelder wou sy ‘n foto wat sy van die aap geneem het wys, maar het toe besef dat hy haar beetgekry het voor sy hom kon afneem. Met die skrik tydens die voorval was die foto heeltemal vergete.

Lucia de Beer se been ongeveer drie weke nadat sy deur die aap gebyt is.

Haar dogter en skoonseun het haar na die Skukuza Mediese Sentrum geneem waar ‘n dokter vir haar ‘n klem-in-die-kaakinspuiting asook twee tipe antibiotika en pynpille gegee het.

Die dokter het glo vir haar gesê dit gebeur dikwels dat ape gaste aanval, veral vroue.  “Ek hou baie van die wildtuin, en ek wil eintlik net hiermee die mense waarsku van die gevaar van die ape.

LEES OOK: Kind se rehabilitasie word eersdaags in Mbombela voortgesit ná breinoperasie, beroertes, epileptiese aanvalle

“Ons het nie gedink hulle sal iemand aanval nie; ons het ook nie vir hulle kos gegee nie. Ek kyk nou met ander oë na ‘n aap.”

Sy sê sy het op ‘n plaas grootgeword en is maar nog altyd versigtig vir “enige ding wat wild is”, en dat hierdie voorval net totaal onverwags was. Nou wonder sy wat word van die wildtuinbestuur se kant af gedoen om hierdie situasie onder beheer te kry.

Lucia de Beer se been een week nadat sy deur die aap gebyt is.

Isaac Phaahla, die woordvoerder vir die wildtuin, sê die langtermynoplossing lê by die gedrag van hul besoekers.  “Hulle moet ophou om diere te voer, want hulle raak gewoond daaraan en verloor hul vrees vir mense.”

LEES OOK: Noodbuikoperasie lei tot verdere komplikasies

Volgens hom sluit die huidige maatreëls die volgende in:

• Opvoedkundige sessies wat handel oor hoe om in die park op te tree en daarmee saam, hoe om jou besigtigings te geniet. Dit sluit in om jou te weerhou om diere te voer.
• Monitors is ingestel om te help met die wegjaag van diere.
• In ekstreme gevalle sal natuur-bewaarders individuele diere monitor, die gevalle met mekaar bespreek en dan kyk na die moontlikhede wat die protokol vir skadeveroorsakende diere daarstel.

Phaahla sê daar is een spesifieke trop wat die Skukuza-dorpie en -toeristefasiliteite binnegedring het, maar die afdelingsveldwagter monitor hulle.

“Dit is belangrik vir besoekers om enige konfrontasie met hierdie wilde diere te vermy. Rapporteer eerder iets aan die amptenare voor iets verskrikliks gebeur.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button